RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal Voortrekkers, in samewerking met CapeNature, het Erfenisdag op 24 September op 'n besondere manier gevier deur 'n projek in die Garciapas aan te pak.
Die groep het indringerplante uitgeroei, met die klem op die verwydering van swartwattels, wat groot druk op die natuurlike ekosisteem plaas.
Volgens projekleier Tielman Roos, is talle bome suksesvol afgesaag en verwyder - 'n daadwerklike bydrae tot die bewaring van die streek se natuurlike erfenis.
Na die harde werk is Erfenisdag en Nasionale Braaidag gepas afgesluit met 'n gesellige worsbraai by die ou Tolhuis.
Die dag was nie net 'n viering van kultuur en erfenis nie, maar ook 'n voorbeeld van hoe gemeenskappe saamwerk om die omgewing vir toekomstige geslagte te beskerm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’