Update
RIVERSDAL NUUS - Die Hessequa-munisipa-liteit het Vrydag 12 Desember die skool-vakansie amptelik afgeskop met 'n gesamentlike verwelkomingsveldtog op die N2 net buite Riversdal, te midde van verhoogde verkeersvolumes en 'n provinsiale versker-ping van padveiligheidsoptrede vir die feestyd.
Die veldtog, wat sterk klem geplaas het op padveiligheid, toerisme en gemeenskapsamewerking, is gelei deur Hessequa se beskermingsdienste met die ondersteuning van Hessequa-toerisme, brandweerdienste, wetstoepassing, verkeersdienste, provinsiale verkeer, die departement van maatskaplike ontwikkeling, Riversdal-polisie, Working on Fire, die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en ander rolspelers.
Met 'n verwagte toename in vakansie-verkeer is motoriste vriendelik ontvang en bewus gemaak van padveiligheid.
Hessequa-toerisme het 150 geskenksakkies aan reisigers uitgedeel, gevul met verversings, lekkernye, toerisme-inligting en 'n Suid-Kaap Forum met Vakansiebylaag, as deel van hul mandaat om besoekers welkom te heet en akkurate inligting oor die streek te verskaf.
Volgens die toerisme-eenheid is die doel om Hessequa as 'n veilige, toeganklike en verantwoordelike vakansiebestemming te bevorder. Vakansiegangers is ook herinner aan waterbewaring, asook veiligheidsriglyne by strande en riviere.
Die plaaslike veldtog vind plaas teen die agtergrond van 'n provinsiale toename in verkeerswetstoepassing.
Tussen 8 en 14 Desember is 119 arrestasies regoor die Wes-Kaap gemaak, waarvan 81 vir bestuur onder die invloed van alkohol was.
Alkohol bly een van die grootste oorsake van ernstige en noodlottige padongelukke.
Verder het 14 voetgangers die afgelope week hul lewens op Wes-Kaapse paaie verloor.
Provinsiale verkeersdienste waarsku dat voetgangers besonder kwesbaar is, veral waar alkohol betrokke is en sigbaarheid swak is.
Meer as 200 geïntegreerde padblokkades en voertuigkontrolepunte is regoor die provinsie opgerig, waartydens meer as 44 000 voertuie gekontroleer is.
Oor die 7 000 boetes is uitgereik, met spoedoortredings steeds 'n groot bron van kommer.
Die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Isaac Sileku, het gesê wetstoepassing alleen kan nie lewens red nie en doen 'n beroep op alle padgebruikers om persoonlike verantwoordelikheid te neem.
Die Hessequa-munisipaliteit sê die Verwelkomingsveldtog bevestig dat die streek gereed is vir die feestyd en noodsituasies.
Inwoners en besoekers word versoek om veilig te reis, verkeersreëls na te kom en verantwoordelike keuses te maak sodat die vakansietyd veilig en genotvol kan verloop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’