STILBAAI NUUS - Die Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, het Vrydag 28 November die Blouvlag vir 'n ongelooflike 20ste keer agtereenvolgens by die ikoniese Lappiesbaai in Stilbaai gehys.
Om dit alles te kroon is ál die strande in die Hessequa-munisipale area weer as Blouvlagstrande aangewys.
Gouritsmond, Preekstoel, Lappiesbaai, Stilbaai-Wes, Jongensfontein en Witsand gaan hierdie Desembervakansie trots hulle Blouvlae wapper.
Hessequa-munisipaliteit het vir hierdie prestasie ook 'n spesiale sertifikaat van erkenning gekry as die enigste munisipaliteit in Suid-Afrika met al sy strande wat Blouvlagstatus verwerf het.
Dit is die sewende keer agtereenvolgens wat hierdie eer Hessequa-munisipaliteit te beurt val.
Hessequa-munisipaliteit het ook spesiale sertifikate ontvang vir Witsand-strand met 15 jaar en Lappiesbaai 20 jaar agtereenvolgens met Blouvlag-toekennings.
Volgens André Hansen van die munisipaliteit, wat die Blouvlag-toekenning-seremonie in die Royal St Andrews Hotel in Port Alfred bygewoon het, het Hessequa se nege toekennings die kollig gesteel.
Dit is net moontlik indien die plaaslike owerheid, gemeenskap en ander rolspelers hande vat en saamwerk.
Daar is 33 kriteria waaraan 'n strand moet voldoen om hierdie gesogte vlag te laat wapper voordat die Wildlife and Environment Society of South Africa (Wessa) die status toeken.
Dit sluit in waterkwaliteit, omgewingsop-voeding, toeganklikheid, veiligheid, sekuriteit en besoekersfasiliteite.
Besoekers by Blouvlagstrande kan uitsien na skoon en netjiese fasiliteite, ablusiegeriewe, opvoedkundige borde en pro-aktiewe veiligheidsmaatreëls wat insluit opgeleide lewensredders en eerstehulptoerusting.
Strande word ook gereeld getoets vir waterkwaliteit deur onafhanklike laboratoriums, met resultate wat bekendgemaak word op kennisgewingborde en op Wessa se webblad.
Die publiek moet daarop let dat honde en ander troeteldiere verbied word op Blouvlagstrande, al is hulle aan 'n leiband en oortreders sal beboet word.
Ander vereistes wat nagekom moet word is:
• Geen alkohol word op strande en publieke fasiliteite toegelaat nie.
• Publiek moet die duine beskerm en moet geensins op duine loop nie.
• Geen vure mag op strande gemaak word nie.
• Geen oornagkampering op strande nie.
• Geen voertuie, behalwe noodvoertuie, word op die strande toegelaat nie.
Swemmers op die strande en in die rivier-
mond word gemaan om versigtig te wees vir verraderlike strome en slegs in die aangeduide gebied te swem.
Lewensredders sal vanaf 10 Desember tussen 09:00 en 18:00 aan diens wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’