STILBAAI NUUS - Die aksie het sommer vroegoggend begin toe die eerste spelers net ná ses afgeslaan het.
Vier- en-negentig spelers het die pragtige baan aangedurf, en daar is tot laatmiddag gholf gespeel.
Onder die spelers was die voormalige Protea-krieketspeler, "Vinnige" Fanie de Villiers, en sy drie seuns asook 'n wenner van 'n reeks van Moer 'n Boer op Kyknet.
Fanie het ook opgetree as seremoniemeester en gasspreker, en was tydens die veiling betrokke.
Die dag is gewen deur Niel en DJ van Tonder, met Marliza en AJ Annandale slegs een punt agter hulle in die tweede plek.
Die hoofborg van die dag was Johan Benn van Alternative Investment Partners, en hy het uit sy pad gegaan om te verseker dat die dag 'n reuse-sukses is.
Tydens die veiling het 'n plaaslike weldoener-egpaar hul hand diep in die sak gesteek en R90 000 vir die wenbod ingesit om 'n wegbreek vir ses na Leopard's Creek te wen.
Die ander items is ook vinnig van die hand gesit, en Karlien Saayman, bestuurder by Huis Stilbaai, het haar emosies moeilik beteuel toe sy die betrokkenes bedank het.
Wanneer 'n gemeenskap saamstaan, kan berge versit word, en die Stilbaai Gholfbaan was op Dinsdag, 23 Desember, 'n goeie bewys daarvan.