ALBERTINIA NUUS - ’n Merkwaardige mylpaal is dié week deur ’n geliefde egpaar van Albertinia gevier toe oom Hannes (91) en tannie Kobie Brits (88) hul 70ste huweliksherdenking op 29 Oktober herdenk het.
Die egpaar is op 29 Oktober 1955 in Christiana in Noordwes getroud.
Ter viering van die spesiale dag het familie en vriende aan elkeen ’n medalje oorhandig as simbool van hul standvastige liefde en lewenslange verbintenis.
Oom Hannes het sy loopbaan as tegniese amptenaar by ’n goudmyn in Vaal Reefs, Orkney opgebou en het in 1988 op vroeë ouderdom afgetree.
Tannie Kobie, ’n trotse tuisteskepper, is volgens familie steeds vol lewe en energie.
Die egpaar het in 1983 na Albertinia verhuis, waar hulle nou al meer as drie dekades gevestig is.
Met hul kenmerkende sin vir humor sê hulle dat hulle hier sal bly “totdat ons Groot Bome toe gaan.”
Hul dogter, Carol Henning, sê dit is vir die familie ’n groot voorreg om hierdie besondere mylpaal saam met haar ouers te kon vier.
“Dankie vir die mooi voorbeeld wat julle stel van hoe liefde en toewyding oor sewe dekades kan voortleef.
Julle liefde vir mekaar bly werklik merkwaardig,” sê sy.
Oom Hannes Brits trots met sy medalje.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’