INTERNASIONALE NUUS - Internasionale Antirookdag word vandag, 31 Mei, gevier en die nasionale raad teen rook wil graag hê rokers moet weet van die voor- en nadele van rook, asook dat dit een van die grootste voorkombare siektes en vroegtydige sterftes wêreldwyd is.
Agnes Maree, 'n maatskaplike werker van Kansa, sê sy het met plaaslike skole, ondermeer Laerskool Van der Hoven in Sinksabrug, gaan gesels. Maree sê hulle het met die leerders gesels oor die soorte kankers wat deur rook veroorsaak word. Sy sê dit is hartseer dat een persoon elke ses sekondes aan rookverwante siektes sterf.
"Dit het nogal die kinders geskok. Ons het ook gepraat oor die koste van sigarette en dat jy eerder die geld op 'n gesonder leefstyl kan spandeer."
Maree sê sy het ook gesels oor die skadelike bestanddele in 'n sigaret asook die gevare van 'n waterpyp (hubble bubble).
Sy sê rokers wat wil ophou moet begin deur op 'n datum en dag te besluit wanneer hulle wil ophou rook.
"Gee jouself 'n week kans om daarop voor te berei en kry die ondersteuning van familie." Haar raad aan rokers is om 10 tot 15 minute te wag na elke maaltyd voor hulle rook, en die tyd elke dag met vyf minute aan te pas. Rokers word ook aangeraai om vir die eerste paar weke na hulle ophou rook het alkohol, en so ver moontlik ander rokers te vermy.
Maree sê rokers moet aan die begin niks doen wat hulle aan rook herinner nie, en om liewer 'n stokperdjie te kry wat hulle kan besig hou. "Word aktief, gaan stap of doen strekoefeninge. Onthou ook om jouself kalm te hou."
Maree sê sowat 24 uur na 'n roker ophou rook daal die kans van 'n hartaanval, 48 uur later sal sy of haar senuweepunte weer begin groei en hul vermoë om te ruik en proe sal verbeter.
Sy sê die longfunksie verbeter na twee tot drie maande en na vyf jaar word kanker van die mond, keel, slukderm en blaas halveer.
Maree sê e-sigarette, snuif en pruimtabak is net so gevaarlik soos 'n gewone sigaret.
Sy sê rook is verantwoordelik vir 20% van kankersterftes wêreldwyd en die sterftes van 600 000 nie-rokers as gevolg van tweedehandse rook.
Volgens die Suid-Afrikaanse demografiese en gesondheidsopname rook sowat 25% van vroue en 42,9% mans daagliks in die Wes-Kaap.
Volgens Nuraan Cader van die Hart-en-Beroerte Stigting van Suid-Afrika, is vanjaar se tema vir antitabakdag spesiaal vir die Wes-Kaap aangepas na 'Tabak breek harte', wat verwys na die groot impak op hartsiektes.
Prof. Pamela Naidoo, hoof van die Hart-en-Beroerte Stigting van Suid-Afrika, wil rokers daaraan herinner dat: "Rook verdriedubbel die risiko van 'n hartaanval en verdubbel die risiko van 'n beroerte."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'