HESSEQUA NUUS - Vadersdag word, soos Moedersdag, deur families regoor die wêreld gevier met allerhande aktiwiteite om die spesiale man in hul lewens te eer.
Nie net word biologiese vaders vereer nie, maar ook oupas, oupagrootjies, stiefvaders, aangenome vaders of enigeen wat as 'n vaderfiguur beskou word.
Pa's word gewoonlik bederf met enigiets van nuwe sokkies, sakdoeke, Old Spice-reukwater, braaisouse met allerhande bisarre geure en kaartjies met die fraaiste boodskappe. Die gelukkiger pa's word bederf met ontbyt in die bed of by die see, 'n baie spesiale middagete saam met die familie of 'n besoek aan 'n braairestaurant (met pa wat straks nog die rekening betaal).
'n Duur bottel whiskey, skaapvelpantoffels of 'n mooi trui het al deur die jare talle pa's se harte verbly.
Dis altyd lekker om 'n handgeskrewe kaartjie met oulike grappies of gesegdes te kry van die ouer kinders en mamma's wat met vindingryke idees kom om pa se dag op te kikker.
En vir nuwe pappa's is dié dag natuurlik ekstra spesiaal. Vadersdag val altyd op die derde Sondag in Junie, dus 18 Junie vanjaar.
Wat is die geskiedenis van Vadersdag?
Moedersdag is lank voor Vadersdag gevier, so dit het dalk 'n groot rol gespeel dat vaders ook op dié manier vereer word. Moedersdag dateer sover terug soos die 1860's, maar dis eers in 1914 as 'n nasionale vakansiedag verklaar. Dit het die weg gebaan om vaders ook op dié manier te vereer.
Volgens oorlewering strek die geskiedenis van Vadersdag terug tot in 1908 toe 'n kerk in Wes-Virginia, 'n diens gehou het vir 362 mans wat die vorige jaar in 'n mynontploffing omgekom het.
In 1909 het 'n vrou genaamd Sonora Smart Dodd met 'n veldtog begin om Vadersdag as 'n nasionale vakansiedag ingestel te kry. Sy was een van ses kinders wat alleen deur hul vader grootgemaak is en sy het gedink vaders behoort ook, soos moeders, op dieselfde wyse vereer te word.
Nadat sy haar plaaslike gemeenskap en die regering vir meer as 'n jaar bearbei het, het Dodd's se deelstaat, Washington, die eerste amptelike Vadersdag op 19 Junie 1910 gevier.
Met verloop van tyd het die viering van Vadersdag van deelstaat tot deelstaat oorgespoel totdat, in 1972, die Amerikaanse president Richard Nixon dit wetlik tot 'n amptelike vakansiedag verklaar het.
Dit het meer as 60 jaar geneem voordat Vadersdag as 'n amptelike vakansiedag erken is. Intussen is daar in Amerika gedebatteer of beide Moedersen Vadersdag nie geskrap moet word en deur 'n Ouerdag vervang moet word nie.
Daar het geluide opgegaan, veral vanuit die geledere van vaders, dat dié dag niks anders as geldmaakbesigheid is nie - oftewel 'n kommersiële foefie. Die meeste vaders was hul gesinne se enigste broodwinners en hulle het gereken id sonsinning om hul swaarverdiende geld op blomme en sjokolade te bestee.
Maar nou is Vadersdag so gevestig soos enige ander openbare vakansiedag. Maar, Moedersdag bly darem maar ekstra spesiaal, veral omdat moeders die grootste aandeel gehad het in omtrent die meeste mense se lewens. Van die swangerskap af tot die grootmaakjare van 'n kind. Dit kan sekerlik nie betwis word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’