HESSEQUA NUUS - Riversdal se Green Fingers-tuinbouklub het Woensdag 11 April 'n interessante uitstappie na Stilbaai onderneem.
Die verrigtinge het by die NG Kerk Riversdal-Wes begin, waar 'n inligtingsessie met foto's oor die brande van 2017 wat tussen Stilbaai en Riversdal gewoed het, deur Ria Odendaal aangebied is.
Martie van der Vyver het haar persoonlike ervarings van dié brande met die groep van 24 gedeel, terwyl Aletta Sutherland 'n gedig wat sy oor die brande geskryf het, gesing het.
Die lede se roete na Stilbaai het hulle verby die brandgeteisterde gebiede geneem.
Op Stilbaai het hulle by die bekende kunstenaar, Jenny Book aangedoen waar hulle meer oor haar wurmplaas en 'wurm-tee' geleer het en haar tuin, wat in Johannesburg toekennings ontvang het, besoek.
Daarna is die groep na die olyfplaas, Muffets, waar Kransfontein olywe en olyfprodukte geproduseer word. Dié plaas vorm deel van drie plase wat oorspronklik aan die skrywer Wilbur Smith behoort het.
Hier het Jacinda Steyn hulle meer van die olyfverbouing, asook die produksieproses vertel terwyl hulle ook geleer is hoe om olyfolie te proe en die olies van die verskillende soorte olywe uit te ken.
Dit is tans oestyd en die tuinbougroep kon self sien hoe olywe gepluk en deur die masjiene verwerk word. Kransfontein het die afgelope drie jaar in die gesogte Absa Top-10 geëindig.
Ná 'n ligte middagete waar verskillende olyfprodukte, wat ingesluit het ingelegde olywe, blatjang, konfyt, smere en olies saam met varsgebakte brode en kase genuttig kon word, is hulle na die aangrensende plaas waar hulle 'n unieke buitelug ouditorium kon besoek.
Daar word selfs vertonings in dié ouditorium langs die Goukourivier aangebied en Roccoletta (Sutherland) het die groep verwelkom met haar strelende klawerbordklanke in die woud.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'