SUID-KAAP NUUS - Jou mondversorgingsroetine is moontlik nie 'n prioriteit terwyl jy kanker beveg nie, maar om mondkomplikasies te voorkom en te beheer kan help om die proses makliker te maak.
Sowat 'n derde van mense wat kankerbehandeling ondergaan, ontwikkel mondprobleme, insluitend 'n droë mond (xerostomie), tandbederf, infeksies en mondsere.
Dirna Grobbelaar, Ivohealth se raadgewer oor mondhigiëne, gee raad oor hoe om hierdie algemene probleme te voorkom en te bestuur.
'n Gesonde mond maak dit minder waarskynlik dat komplikasies sal ontwikkel. Besoek jou tandarts en laat ook jou tande professioneel skoonmaak voor met kankerbehandeling begin word.
Laat twee weke of meer tussen behandeling en enige mondchirurgie toe.
'n Droë mond is 'n algemene newe-effek van bestraling, talle chemoterapiemiddels en ander medisyne.
Speeksel is die liggaam se natuurlike manier om die mond skoon te hou en 'n droë mond moedig die opbou van bakterieë en plaak aan, wat die waarskynlikheid van tandvleissiekte, tandbederf en slegte asem verhoog.
Die drink van water kan tydelike verligting bring en die kou van kougom kan speekselvloei stimuleer. Daar is ook produkte wat spesifiek ontwikkel is om speekselproduksie aan te moedig.
Nougesette versorging van die mond is uiters belangrik. Borsel minstens twee keer per dag op die korrekte manier met gebruik van 'n sagter borsel, wat sagter sal wees op sensitiewe tandvleis en net so doeltreffend skoonmaak.
Doop die tandeborsel in warm water om die borselhare verder te versag.
Jy voel dalk baie moeg – 'n goeie elektriese tandeborsel sal 'n uiters skoon gevoel met die minimum moeite verseker. Tandepasta met 'n sterk smaak kan moontlik die tandvleis irriteer. Gebruik 'n sagwerkende tandepasta.
As jou tandvleis bloei of geïnfekteer raak, oorweeg 'n behandelingstandepasta, beskikbaar by apteke en tandartse.
Maak daagliks tussen die tande skoon. As jy vlos te moeilik vind, probeer 'n interdentale borsel. Nadat jy geëet het, of vir bykomende varsheid, spoel met 'n alkoholvrye mondspoelmiddel.
As jy naar voel en opgooi, moenie jou tande onmiddellik daarna borsel nie; maagsuur demineraliseer emalje en verswak tande. Spoel jou mond aanvanklik net met water of 'n alkoholvrye mondspoelmiddel uit en wag dan 'n uur of meer voor jy borsel.
Mondsere stel sensitiewe senuweepunte bloot wat drink, eet, praat en skoonmaak van jou mond pynlik kan maak. Moenie jou mondhigiëne verwaarloos nie aangesien dit vinniger genesing kan aanhelp.
Die bestuur van simptome sal help om pyn en ongemak te verlig – 'n deurslaggewende deel van jou behandeling en herstel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'