LEEFSTYL NUUS - Met ses Comrades-maratonne en ses Ystermanne agter die rug het Jolanda Rosin beslis die beste raad vir iemand wat besluit het 2024 is ‘n jaar vir fiks word.
Jolanda het in 2005 vir die eerste keer ‘n paar tekkies opgetel en begin hardloop. ‘n Oorvol program en twee klein kinders het veroorsaak dat Jolanda aan depressive begin lei het, en ‘n vriendin het voorgestel dat sy iets vir haarself moet doen. Dit is toe dat die hardloop-gogga Jolanda gebyt het.
“Niks laat my beter voel as ek na ‘n stresvolle dag my tekkies aantrek en hardloop of my fiets ry of gaan swem nie,” vertel Jolanda.
Om met iets nuut te begin kan oorweldigend wees, en Jolanda het raad vir die beginners-senuwees. “Begin net. Moet nie te groot dink nie, begin met draf-stap.” Jolanda noem dat om saam iemand te begin dit makliker maak om gemotiveerd te bly deur die proses.
“Doen dit saam iemand wat jou verantwoordelik kan hou vir jou besluit. As jy eers fiks is word dit lekker en dan sal jy nie meer wil stap nie.”
Die moeilikste deel van oefen, veral wanneer jy ‘n beginner is, is om brein-fiks te word. Jou lyf is tot baie instaat, maar as jou kop eers besluit het jy kan dit nie doen nie gaan jou lyf jou nie oor die wenstreep dra nie.
“Ek moes al baie goed doen wat ek nooit gedink het ek sal kan doen nie,” erken Jolanda.
“Dan neem die ‘kop’ oor.” Menende, as jy in jou kop glo dat jy dit kan doen, sal jou lyf instaat wees om dit te doen. “Ek vertrou op die Here vir my gesondheid en sport, dan weet jy as jy nie meer kan nie sal Hy vir jou krag gee om aan te hou.” Jolanda se sport-loopbaan is werklik ‘n getuienis hiervan as jy in aanmerking neem dat ‘n Comrades marathon 89.9 km is, en sy het ses van dit gedoen, om nie te praat van ses Ystermanne nie!
Met enige sport is daar ekstra oefeninge wat jy moet doen om beserings te voorkom en jou te bevorder in die sport.
“Om beserings te voorkom is dit belangrik om kragwerk te doen, veral as mens ouer is,” sê Jolanda. “Dit is nie nodig om by ‘n gim aan te sluit nie. Koop eers dumbells en ‘n oefenmat. Daar is baie oulike oefeninge op YouTube.”
As jy dit finansieël kan bekosting kan jy ‘n persoonlike afrigter of ‘n biokinetikus nader om vir jou ‘n oefenprogram uitwerk wat in lyn is met jou oefen-doelwitte.
Dis belangrik om na jou liggaam te luister, veral wanneer jy iets nuut aanpak. “As jy te moeg voel om te oefen, rus. As jy weet jy is net lui, begin net en sê vir jouself jy gaan net 5km hardloop,” stel Jolanda voor. “As jy weer sien trek jy by 10km.”
Hou jou oë op jou doelwit en moet nie moed verloor jou. Jou harde werk sal beloon word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’