HEIDELBERG NEWS - Inbrake en diefstal is aan die toeneem in die hele Heidelberg-streek en die plaaslike polisie se taak om dit hok te slaan word aansienlik bemoeilik deur inwoners wat gesteelde goedere as "winskopies" aanskaf.
Dié winskopies skep groot kopsere vir die polisie omdat dit volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike polisiewoordvoerder, 'n mark vir die skelms skep.
Sy waarsku alle voornemende kopers van gesteelde goedere dat daar drasties teen hulle opgetree gaan word. Hulle kan selfs tronk toe gaan, "want die deler is net so goed soos die steler."
Hendricks sê verder dat inwoners nie hul huise ongesluit of met oop vensters moet laat al gaan hulle net gou iewers uit, soos na 'n naburige winkel om iets te koop.
"Ons word oorval met klagtes waar dit duidelik is dat inwoners hul deure en of vensters oopgelaat het terwyl hulle vinnig 'n draai gaan stap het. Die diewe het net 'n minuut of twee nodig om waardevolle items uit jul huise te buit."
Enige inligting wat sal lei tot die arrestasie en skuldigbevinding van die diewe en kopers van gesteelde goedere sal hoogs vertroulik hanteer word. Hendricks kan by 079 893 9930 of die dienssentrum by 10111 geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'