RIVERSDAL NUUS - “Daar bestaan ‘n miskonsepsie dat mense met windbukse mag doen net soos hulle wil. Dit is ‘n misdaad om enigiets wat soos ‘n vuurwapen lyk - sónder goeie rede - op iemand te rig,” waarsku die prokureur Alexander Lotz van die regspraktyk Hofmeyr en Seun op Riversdal.
In die lig van die voortslepende vermeende teiken van diere deur ‘n windbuksbooswig in ‘n woonbuurt op Riversdal, het Suid-Kaap Forum hom gevra om die regsaspekte te skets. Inwoners vrees dat dwaalkoeëls ook mense kan tref.
Die gebruik van vuurwapens word deur die wet op die beheer van vuurwapens, 60 van 2000 (soos gewysig) gereguleer.
In terme van artikel 5 van die wet word windbukse nie as vuurwapens gedefinieer nie - máár windbukse wat meer as 5.6 kaliber en die loopkrag 8 joules of 16 voetpond oorskry, word wel as ‘n vuurwapen in terme van die Suid-Afrikaanse reg en die wet gedefinieer - én ‘n vuurwapenlisensie word dus vereis.
Die misdade
• Dit is ‘n misdaad om liggaamlike skade en skade aan ‘n eiendom te berokken deur die nalatige gebruik van ‘n vuurwapen of windbuks;
• Om ‘n vuurwapen of windbuks in so ‘n manier af te vuur dat dit iemand se veiligheid in gevaar stel, beseer en eiendom beskadig;
• Om beheer te hê oor ‘n windbuks of vuurwapen wat gelaai is met ammunisie en wat ‘n risiko inhou.
Bewyse
Die nodige elemente moet bewys word om optrede as ‘n misdaad te verklaar. Dit is onwettig as die beskuldige met opset opgetree het. Dit hoef dus nie bewys te word dat hy geweet het dat die daad wat hy doen onregmatig of onwettig is nie. Dit is voldoende dat hy moes voorsien dat die moontlikheid van sy onwettige optrede wel roekeloos was en daarmee voortgegaan het.
Die ondersoek
Ten opsigte van die strafreg is ‘n polisiebeampte geregtig om ‘n perseel, voertuig, vaartuig of vliegtuig te deursoek om vuurwapens of windbukse wat hulle vermoed op ‘n wyse gebruik is wat die wet oortree te konfiskeer.
Eweneens het die getuies van ‘n misdaad ‘n burgerlike plig om ‘n klag by die naaste polisiekantoor te lê en dit uiters noodsaaklik is dat die gemeenskap, polisie en wetstoepassers moet saamwerk.
Die straf
Enigeen wat in beheer van ‘n windbuks is en op ‘n wyse bogenoemde oortree, is skuldig aan ‘n misdaad en kan skuldig bevind word, in welke geval hy tot en met 15 jaar tronkstraf opgelê word.
Siviele saak
Die beskuldigde kan ook wel aanspreeklik gehou word in terme van siviel-regtelike aksie vir skadevergoeding indien die persoon skade gely het as gevolg van die beskuldigde se dade.
Die doel van ‘n skadevergoedingseis is om die slagoffer finansieel te vergoed vir die skade wat gely en/of leed wat berokken is. ‘n Eiser moet in dié geval die skadevergoedingsbedrag bewys as gevolg van die verweerder se onregmatige daad.
Dit is dus duidelik dat iemand wat in beheer van ‘n windbuks is, nie net daarmee kan doen wat hy of sy wil nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'