ALBERTINIA NUUS - Lasarus-wildplaas se sesde produksieveiling op Saterdag 7 Maart het buitengewoon goed verloop.
Meer as 75 kopers het geregistreer en ongeveer 180 mense het die veiling bygewoon. Daar was ook 21 kopers wat per telefoon gebie het.
"Ons het 'n rekordtal kopers van oor die land gehad en 293 stuks wild in 92 lotte aangebied waarvan 89 verkoop is," sê Nico, Sonette en Hertie Lerm van die wildsplaas waar wild geteel en gejag word.
Die omset van meer as R2 miljoen het verlede jaar s'n oortref. Die drie lotte is teruggehou omdat die minimumprys nie bereik kon word nie.
Altesaam 35 wildspesies en 'n aantal veerasse het onder die hamer gekom. "Wildspesies het onder meer steenbokke, njalas, elande en buffels ingesluit. Verskeie inheemse veerasse uit Afrika, soos Ankole-beeste, Xhosa lob ear veldbokke, Meatmasters en 'n pas vrygestelde vrylopende Afrika-hoenderras is aangebied."
Hierdie hoenders het gemiddelde pryse van R600 per hen behaal. Elke lot wat verkoop is het 'n gratis hoenderhaan ontvang. Aflewering en versekering in Suid-Afrika was ook kosteloos.
"Dit is die enigste wildveiling in Suid-Afrika waar al die diere van een eienaar afkomstig is."
Lasarus Game Farm het sowat vier jaar gelede Ankole-beeste van pres. Cyril Ramaphosa se kudde aangekoop. "Ons het hulle begin teel en sy verteenwoordiger het op die afgelope veiling 'n koei uit ons aanwas vir sy kudde aangekoop."
Hy het ook 'n Meatmaster-skaapram aangekoop.
Die Ankole-koei is vir R120 000 verkoop.
Die elandbul is vir R50 000 verkoop.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'