HESSEQUA NUUS - Om iemand in diens by 'n besigheid te neem word sekere riglyne gevolg, soos dat die aansoeker sy of haar CV moet verskaf, meestal verwysings van vorige werkgewers, asook 'n afskrif van sy/haar identiteitsdokument (ID).
Hoewel 'n CV nie regtig nodig is wanneer jy iemand by jou huis, hetsy as tuin- of huiswerker in diens wil neem nie, is dit tog belangrik dat jy 'n afskrif van die persoon se ID kry en hulle verwysings nagaan.
Kontaknommers van 'n paar familielede is ook noodsaaklik.
"Ons het al dikwels gevalle gehad waar 'n tuinwerker, maar selfs huishulpe hul werkgewer besteel - en dan het die werkgewer geen inligting oor die persoon nie. Dit maak die ondersoek in so 'n saak uiters moeilik," verduidelik kaptein Susan Botha, stasiebevelvoerder van Albertinia-polisie.
Sy beklemtoon ook dat mense nie onwettige immigrante in diens moet neem nie. "Maak seker jou werker is 'n Suid-Afrikaanse burger."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'