GOURITSMOND NUUS - Spanne kontrakteurs het gedurende die eerste week van die jaar opleiding begin ontvang wat hulle in staat sal stel om uitheemse indringerplante in die Goukourivier se opvanggebied te verwyder.
Die projek is deur die Gourits-groepbiosfeerreservaat (GCBR), wat 'n gebied van 1,3 miljoen ha beslaan, geïnisieer en word hoofsaaklik deur die Nederlandse DOB-familietrust ondersteun, maar daar is ook finansiering vanaf die department van omgewingsake se werk vir water-projek. Met die DOB se hulp is 'n gebou in Barrystraat op Riversdal restoureer en omskep in die GCBR se hoofkantoor.
"Kundiges het 'n prioriteitsgebied van sowat 9 000 ha in die opvangsgebied van die Goukourivier identifiseer waar ruie uitheemse swartwattel, denne en populiere voorkom wat die natuurlike fynbos en watersekerheid bedreig," sê Rhett Hiseman, bestuurder van dié projek wat die rivier se lewenskragtigheid wil herstel.
Die opvangsgebied in die Langeberge is in privaat besit. "Die doel is om die rivier van sowat 55 km vanaf die opvangsgebied, tot waar dit by Stilbaai in die Indiese Oseaan vloei, skoon te maak sodat die vleilande weer as natuurlike ekosisteem kan funksioneer."
Die projek sal oor die volgende 15 tot 20 jaar werk aan plaaslike kontrakteurs verskaf. "Ons het reeds vier kontrakteurs aangestel wat elk 12 werknemers in diens het. Hulle word deur verskeie diensverskaffers opgelei in onder meer die veilige gebruik van hand- en kettingsae, asook eerstehulp."
Met verloop van tyd sal indringerplante in die rivierbedding en op die oewers ook verwyder word. "Veen en inheemse riet- en palmietspesies wat in die vleilande groei, werk soos 'n spons wat die water absorbeer en stadig vrylaat, en ook die grond vashou dat dit nie wegspoel wanneer die rivier afkom nie."
Die monitoring van die hoeveelheid en kwaliteit van die water sal deel van die projek vorm. "Die riviersisteem is nie gesond nie, maar namate die projek vorder sal dit tot voordeel van die natuur herstel, sowel as die boere en gemeenskappe langs die oewers."
Die rivier val onder die beheer van die Breede-Gouritz Opvanggebied-bestuursagentskap (BGCMA). "Ons wil graag samewerking tussen al die rolspelers bevorder, soos die GBCMA en die WNNR wat help om die waterkwaliteit te monitor, asook die plaaslike munisipale bestuur, die Garden Route-distriksmunisipaliteit, die boere en die breër gemeenskap."
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'