RIVERSDAL NUUS - "Nou wat nou," was waarskynlik baie vakansiegangers se eerste reaksie toe hulle verlede Donderdag tydens 'n padblokkade op die N2 net voor Riversdal afgetrek is.
Dis genoeg om jou vakansie op 'n suur noot te begin. Maar gou is hul mismoedigheid met breë glimlagte vervang met die besef dat dié padblokkade een sonder byt is, maar die jaarlikse verwelkomingsinisiatief van Hessequa-munisipaliteit is waarin besoekers met 'n verwelkomingspakkie en koeldranke verras word. Group Editors se lywige vakansiegids is ook aan almal uitgedeel.
In die spanpoging het verskeie raadslede saam met die uitvoerende burgemeester, Grant Riddels, die besoekers welkom geheet in Hessequa en hulle 'n veilige reis en geseënde Kersseisoen toegewens.
Hulle is bygestaan deur verkeers- en brandweerdienste, Working on Fire-lede en natuurlik Hessequa-toerisme se personeel wat instrumenteel was in die organisering van die verwelkoming.
Die verkeersdepartement het lisensieskyfies en rybewyse nagegaan en ook na die padwaardigheid van motors gekyk.
Dis mos hoe mens verwelkom wil word op 'n vreemde plek.
Die vertrekkende besoekers se gesigte het boekdele gespreek.
Raadslid Ben Smith verras 'n niks-vermoedende besoeker met 'n geskenkpakkie en koeldranke.
Lede van Working on Fire druk besig om Group Editors se lywige vakansiegids te lees. Dis aan alle besoekers aan Hessequa uitgedeel.
Raaslede van Hessequa-munisipaliteit, verkeer- en brandweerdienste en natuurlik Working on Fire net voor die aanvang van die padblokkade verlede Donderdag om besoekers aan Hessequa te verwelkom. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'