STILBAAI NUUS - Stilbaai-sakekamer het op Donderdag 8 September 'n sakeontbyt aangebied by Allegaartjie waar Andrew Stroebel, speaker van Hessequa-munisipaliteit, as geleentheidspreker opgetree het.
Sy praatjie het gehandel oor hoe om 'n omgewing te skep waarin 'n besigheid kan floreer en het ook gefokus op voorsieningskanaalbestuur.
Stroebel sê daar is heeltemal te min besighede wat met die munisipaliteit sake doen. "Stilbaai het byvoorbeeld 131 name op die databasis en Melkhoutfontein 49, maar nie naastenby daardie getal doen fisiek besigheid met die munisipaliteit nie."
Hy het 'n beroep gedoen op diensver-skaffers om op die databasis te registreer. "Kry net eers jou sake op datum by die Inkomstediens en dan registreer jy by secure.csd.gov.za," was sy advies.
"Indien jy nie gemaklik is om daar te registreer nie kan jy na Riversdal toe ry en dit by die munisipaliteit doen. Maak net seker dat jy voldoende lugtyd en data op jou selfoon het."
Die munisipaliteit het 'n kapitaal-begroting van R86 847 000 en 'n bedryfsbegroting van R618 678 000 en daar is dus heelwat transaksies wat plaaslik gedoen kan word.
Die sektore waar die munisipaliteit gereeld kwotasies voor aanvra, maar beperkte plaaslike verskaffers het, is die volgende:
Bourekenaardienste, beskermende kleredrag en uniforms, loodgieters, skryfbehoeftes, watermeters, pype ens., elektriese onderdele, algemene bouwerk, binnenshuise versiering, plaagbeheer, kantoormeubels en -toerusting, waterdigting, dekriet en dakhersteldienste, trofeë en gravering en vertaaldienste.
Stroebel sê die munisipaliteit wil graag plaaslike besighede ondersteun, maar dan moet die verskaffers hulle sake in orde kry, registreer en verseker dat hulle die diens kan lewer.
Hy sê ook verder dat indien besighede begrotingsinsette het, moet hulle nie huiwer om dit aan te stuur nie. "As dit verdienstelike gevalle is, sal daarvan werk gemaak word al is dit nie in die huidige boekjaar nie."
Albert de Klerk, munisipale bestuurder het die voorsitter van Stilbaai-sakekamer, Rachel Wall en haar bestuur bedank vir wat hulle vermag het in die dorp. "Dit is iets besonders en uniek."
Hy sê 'n munisipaliteit bestaan uit drie dele: "Dit is die gemeenskap, waarvan sakelui baie belangrik is; tweedens die raadslede en dan, derdens, die amptenare. Daar moet goeie wisselwerking wees tussen hierdie drie om suksesvol te wees. Die begrotingsinsette vanuit die gemeenskap is baie belangrik, want die Hessequa-munisipaliteit bestaan uit nege gemeenskappe."
De Klerk sê by aankoopbestuur is daar drie dinge waarna jy moet kyk: "Om 'n skoon oudit te kry moet jy verseker dat die verskaffer aan alle wetlike vereistes voldoen. As dit in plek is, kry prys 'n gewig van 80% en BEE-status 20%."
Hy het afgesluit deur te sê dat Stilbaai beslis een van die mooiste dorpe is wat hy al gesien het en almal moet hande vat om sukses te verseker. Hy is ook oop vir gesprekke.
Wall sê dat meganiese besluitneming innovering vernietig en die sakekamer voel dat heelwat besluite geneem word sonder die nodige navorsing. "Ons het toe gaan dink waar ons die data en inligting gaan kry om Hessequa te ondersteun."
Johan van Zyl, ondervoorsitter van die sakekamer, het genoem dat hulle elektroniese vraelyste binne die volgende ses maande gaan uitstuur om die volgende vrae te beantwoord: Hoe lyk die ekonomie van Stilbaai; hoekom kom tree mense hier af; hoe lyk die befondsing van hierdie mense; hoeveel geld spandeer vakansiegangers in Stilbaai; hoe lank bly vakansiegangers; waar drink hulle koffie; hoe voel jy oor 'n hospitaal en laastens het jy die afgelope maand probleme gehad met munisipale diens?
"Die nodige antwoorde behoort die sakekamer in staat te stel om inspraak te gee in die GOP van Hessequa-munisipaliteit."
Lede van die Stilbaai-sakekamer luister aandagtig na die sprekers. Van links: Willie Delport, Lourens Botha en Wellie Welman.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'