RIVERSDAL NUUS - Morsjorse en skobbejakke wat nie 'n duit omgee waar en wanneer hulle onwettige vullis en enige tipe rommel stort nie, is besig om die lewe vir Hessequa-munisipaliteit te versuur.
En dis nie net bosslapers en sakkrappers wat die groot sondaars is nie. Sommige inwoners maak hulself net so skuldig aan die storting van veral tuinvullis.
Daar is ook sommige besigheidseienaars wat vullishouers vir voetgangers in die dorp misbruik.
Dis veral in Riversdal waar vaste afvalprodukte soos huishoudelike afval, besigheidsafval, ou gebruikte meublement, gevaarhoudende stowwe, tuinafval en dooie diere onwettig in woongebiede, parke en oop ruimtes gestort word.
Dit plaas groot druk op die munisipaliteit se skoonmaakspanne om die onderskeie areas skoon en netjies te hou.
Onwettige stortings veroorsaak nie net dat die omgewing besoedel word en 'n groot gesondheidsrisiko vir inwoners inhou nie, maar dit beïnvloed ook die normale vullisverwyderingskedules siende dat ekstra tyd bestee moet word om hierdie areas skoon te hou.
Die munisipaliteit probeer om alle areas waar onwettige stortings voorkom, gereeld skoon te maak.
Maar so gou as wat vullis uit oop ruimtes verwyder word, word nuwe vullis 'n dag later by dieselfde plekke onwettig gestort. Hierdie gebiede, van hulle langs die N1 wat deur Riversdal loop en oorkant 'n aantal besighede, bly gevolglik vuil en besoedel met onwettige stortings en lyk onooglik.
Inwoners is ook al versoek om nie hul swart vullissakke te vroeg op hul sypaadjies uit te plaas nie aangesien sakkrappers dit deur die nag verwyder, oopskeur en die gemors net so los.
Om dit hok te slaan, is 'n moontlike oplossing om die swart sakke op die dag van vullisverwydering uit te plaas.
Hessequa-munisipaliteit het in 'n amptelike verklaring aan Suid-Kaap Forum die probleme wat oor die algemeen ondervind word met die verwydering van huishoudelike- en besigheidsvullis in die streek netjies uiteengesit:
Huiswinkels
Vullis en kartonne word nie in goedgekeurde houers of aanvaarbare vullissakke uitgeplaas nie. Los vullis word op sypaadjies en in straatvullishouers geplaas of op besigheids- en woonpersele en dit bemoeilik die verwydering daarvan.
Die tydperk van verwydering word daardeur ook vertraag.
Indien die wind waai, word die vullis rondgewaai en besoedel dit die aangrensende gebiede.
Vullishoekies word gebruik as toiletfasiliteite en gee aanleiding tot gesondheidsrisiko's en oorlaste.
Huishoudelike vullis
Vullis word enige dag en tyd uitgeplaas en veroorsaak omgewingsbesoedeling en stem nie ooreen met die vullisverwyderingsprogramme van elke gedeelte van elke dorp nie.
Rondloperhonde skeur sakke stukkend en veroorsaak dat vullis rondwaai en die omgewing besoedel. Dit veroorsaak dat die verwydering van die vullis ook bemoeilik word. Die honde hou selfs 'n gevaar in vir die munisipale werkers wat die vullis moet verwyder.
Werklose mense en bosslapers deursoek vullissakke soggens vroeg of saans en die vullissakke word in publieke oop ruimtes en bosse gelos nadat dit deursoek is. Rommelstrooiing is dus aan die orde van die dag.
Besigheidsvullis
Vullishouers wat teen lamppale vasgemaak is of op strategiese plekke op sypaadjies geplaas word, word deur besighede gebruik om vullis in te stort en kartonne in te plaas. Voetgangers gooi dus vullis los rond omdat vullishouer beset is met besigheidsvullis.
Sommige besighede wat wegneemetes verkoop, stort voedselreste in vullishouers wat slegte reuke veroorsaak en munisipale amptenare, wat vullis moet verwyder, word aan gesondheidsrisiko's blootgestel.
Massavullishouers in dorp- en landelike area's
Kennisgewingborde word glad nie gehoorsaam nie. In dié massahouers word enige tipe afval gestort waaraan gedink kan word: bourommel, dooie diere, gevaarhoudende stowwe, gifstowwe, rioolafval, meubels ensovoorts.
Die gevaar bestaan dat munisipale amptenare ook gereeld blootgestel word aan slange, rotte, muise, skerpioene, spinnekoppe en ander ongediertes. Selfs asbesprodukte soos geute, afvoerpype en dakplate word onwettig gestort.
Sommige privaat massahouers is in so 'n posisie geleë of sodanig vervaardig dat amptenare binne-in houers moet klim om vullis te verwyder. Waar los vullis gestort word en nie in sakke geplaas is nie, is die verwyderingsproses uiters moeilik en tydrowend.
Werkers kry jaarliks twee oorpakke, maar dit moet daagliks gewas word omdat dit besoedel is met hoërisiko en "onwettige" vullis.
Erge vandalisme kom voor by massahouers: betonpanele word gesteel en massahouers word aan die brand gesteek.
Bogenoemde ongewenste en onwettige aksies is maar 'n paar voorbeelde waarmee Hessequa-munisipaliteit daagliks te doen kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’