RIVERSDAL NUUS - Na aanleiding van 'n klag wat deur 'n inwoner van Riversdal ontvang was oor rommel wat in die Meurant historiese begraafplaas afgelaai is, het Suid-Kaap Forum Saterdag, 29 Januarie self ondersoek gaan instel en was geskok om te sien hoe vervalle dit lyk.
Behalwe van die huishoudelike vullis wat oral rondgestrooi gelê het, is die gras baie lanklaas gesny. Dieselfde gesig was ook by die begraafplaas buite die dorp, oorkant die N2.
By navraag het Didi Budricks, hoof van openbare betrekkinge, administrasie en hulpdienste gesê Hessequa-munisipaliteit sny gras op munisipale eiendomme, insluitend begraafplase en publieke oop ruimtes volgens 'n skedule en spreek areas van kommer aan soos nodig en volgens die beskikbare hulpbronne.
"Die buitengewone goeie reënval wat ons die afgelope paar maande beleef het, het nie net verhoed dat die gras nie volgens skedule gesny kon word nie, maar het ook daartoe gelei dat die gras en onkruid vinniger gegroei het.
"Ons Parke-spanne doen alles in hul vermoë om ons dorpe skoon en netjies te hou en begraafplase geniet prioriteit. Inwoners word bedank vir hul begrip en geduld in hierdie verband."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'