NASIONAAL NUUS - Solidariteit Helpende Hand se Boesemvriendinne-projek het reeds meer as 4 000 gebreide borsprosteses aan vroue verskaf wat hul borste weens borskanker verloor het.
"Helpende Hand se FroueVonds* het die Boesemvriendinne-breiprojek in Mei verlede jaar in samewerking met die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) van stapel gestuur. Verlede jaar het ons met behulp van ons ondersteuners 1 421 wolprosteses ingesamel," sê René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand en projekbestuurder van die FroueVonds.
Vanjaar het hulle weens bykomende ondersteuning reeds vir 2 722 prosteses gesorg. Die FroueVonds is deel van Helpende Hand en is in 2019 gestig om vroue te bemagtig. Borskankermaand word jaarliks in Oktober gehou om die publiek van dié siekte bewus te maak.
As deel van die bewusmakingsprojek het Helpende Hand Donderdag 3 November van die gebreide prosteses aan Kansa by hul hoofkantoor in Pretoria oorhandig.
Anina Meiring, 'n bestuurder van Kansa en borskankeroorlewende het ook die geleentheid bygewoon. Sy het op 36-jarige ouderdom albei haar borste weens kanker verloor en gebruik self van die gebreide prosteses. Sy help ook om dit op grondvlak onder pasiënte te versprei.
"Dit is reeds erg as 'n vrou hoor sy het kanker. En om dan te hoor jy moet 'n mastektomie kry, maak dit geweldig traumaties. Nie almal kan borsrekonstruksie bekostig nie en daai gebreide outjies werk wonderlik. Ek swem selfs daarmee," vertel sy."
Volgens Roux is Boesemvriendinne 'n voortdurende projek en sy hoop om volgende jaar in Oktober meer as 4 000 van die gemaklike en relatief goedkoop borsprosteses aan Kansa te kan skenk.
Pakkette bestaande uit 'n brei- of hekelpatroon, die spesiale wol en vulling word teen R60 per pakket aangekoop en onder Helpende Hand se vrywilligers versprei. Om dié pakkette te finansier, het Helpende Hand met USN hande gevat en veelsydige, interessante Sox Footwear-sokkies begin verkoop. Sy het mense aangemoedig om aan te hou brei of die breiers te ondersteun deur vir hulle van die pakkette aan te koop.
Besoek www.boesemvriendinne.co.za vir meer inligting.
*Die naam is met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'