HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie se vrouenetwerk onder leiding van sers. Imorgene Hendricks, het Dinsdagoggend 24 Mei, 'n groep vroue met 'n insiggewende praatjie en heerlike ete bederf.
Die doel van die verrigtinge was om vroue meer spesifiek van hul rol en waarde in hul gesinne, maar ook in die breë gemeenskap bewus te maak.
Grant Riddles (uitvoerende burgemeester), Julian Buis (GPF-voorsitter), Heinrich Hartnick (Da Gamastreek GPF-voorsitter), asook verteenwoordigers van verskeie regeringsdepartemente van oor die streek het die geleentheid bygewoon.
Liezel Snyman wat onlangs haar eerste boek vrygestel het, het oor haar persoonlike ervaring met gesinsgeweld en mishandeling gepraat.
Die bekende skilderkunstenaar en pottebakker, Anthony Noble van George, het met sy verfkwas haar lewensverhaal binne 26 minute op doek vasgelê.
Sy het vertel dat sy op die jong ouderdom van 17 in die huwelik getree het nadat sy haar eersgeborene op 16-jarige ouderdom gehad het. Sy was twee keer getroud, het haar huis verloor en sy het kanker gehad, maar dit het haar nie afgeskrik nie.
"Moenie op jou verlede terugkyk nie, want verandering sal nie gebeur as jy aanhou terugkyk nie. Herken jou waarde van vandag af as vrou," het sy gevra.
Noble het die vroue herinner dat hulle hul eie waarde bepaal. Volgens hom is dit belangrik dat ons as mens nie ons vertroue in God moet verloor nie, al weet ons nie wat die uitkoms gaan wees nie. "Vertroue is 'n keuse," het hy beklemtoon.
Buis het gesê dat dit belangrik is om ten alle tye daar vir almal te wees om beter gemeenskappe te bou. Kapt. Rosetta Bhana, Da Gama streekskapelaan het die aanwesiges daarop gewys dat hulle daarna moet streef om 'n goeie moeder en 'n aktiewe gemeenskapslid te wees.
"Laat ons die genesers van ons kinders en gemeenskappe wees," het sy benadruk.
Liezel Snyman aan die woord.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'