HESSEQUA NUUS - Elke jaar op 9 Augustus word vroue se prestasies met 'n openbare vakansiedag in Suid-Afrika herdenk.
Ons ken die geskiedenis van hoe vroue van alle sosiale vlakke en uit elke provinsie in 1956 per trein en bus opgeruk het om voor die Uniegebou in Pretoria te gaan sê: "Ons wil nie meer pasboeke dra nie. Pasboeke maak van ons slawe. Laat ons toe om soos ander mense vrylik in die land van ons geboorte rond te beweeg."
Swart vroue het swaar gekry. Sonder 'n pasboek is hulle nie toegelaat om in sekere dele van die land te woon nie. Die pasboek se datumstempel het gewys hoe lank sy in 'n bepaalde gebied kon bly mits sy werk gehad het. As die datum verstryk het en sy het nog nie 'n ander werk gehad nie, was sy onwettig in daardie gebied en kon daarvoor in die tronk beland.
'n Swart werker kon net in die Westelike Provinsie werk kry indien die departement van arbeid tevrede was dat niemand anders die werk kon doen nie. In dié provinsie, net soos in alle ander dele van die land, was groot bitterheid teen die pasboekwet onder swart mense wat maklik kon oorspoel teen mense wat deur die wet bevoordeel was. Dit was 'n hoogs plofbare situasie vir almal wat gedurende daardie tydperk op verskillende wyses deur apartheid onderdruk was.
Die Federasie van Suid Afrikaanse Vroue (FEDSAW) onder leiding van Albertina Sisulu het die situasie polities briljant ontlont. Die vroue van die land oor die hele kleurspektrum het hande gevat en saam na die Uniegebou opgeruk om hul stemme te laat hoor.
Die sein is uitgestuur dat vroue in die land nie verdeel sou word nie. Die vroue wat gekies was om die optog van bykans 20 000 te lei was Lilian Ngoyi, Helen Joseph, Sophia de Bruyn en Rahima Moosa.
Hierdie kaliber Suid-Afrikaanse vrou het deur die jare 'n deurslaggewende rol in die bevryding van die land gespeel en speel vandag nog 'n beduidende rol in die demokratiese parlement. Vyftig persent van die totale lede van die regerende party is vroue.
Kan ons vandag nog wys na sulke vroue met durf in ons samelewing wat bereid is om vir geregtigheid die woord by die daad te voeg? Is daar vrouens wat bereid is om hande te vat soos die vroue van 1956 om saam aan kwessies wat vandag nog seermaak te werk?
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'