WITSAND NUUS - 'n Jong vrou is Maandag, 6 Desember noodlottig beseer toe sy deur 'n verbygaande voertuig op die Rolhoekpad, Witsand getref is. Die ongeluk het ongeveer 17:00 plaasgevind.
Die oorledene, Magrieta Willemse (25), ma van 'n 18 maande oue babaseun, was te voet op pad huistoe toe die motor haar getref het.
Sy was op die plaas Rolhoek woonagtig, waar sy ook glo gewerk het.
Volgens die polisie het die bejaarde bestuurder van 'n grys Coltbakkie beheer oor die voertuig verloor nadat hy blykbaar 'n beroerte gekry en die slagoffer aan die anderkant van die pad getref het.
Die beseerde Willemse is per ambulans na Riversdal-hospitaal vervoer, waar sy aan veelvoudige beserings beswyk het.
Die bestuurder is vanaf die toneel deur 'n familielid na die Mediclinic in George vervoer. Hy is nog in die hospitaal waar hy in 'n stabiele toestand verkeer.
'n Klag van strafbare manslag word ondersoek.
Buiten haar seun, Isaih laat sy haar ouers, Elizabeth en Jacob Willemse, twee broers en een suster agter.
Die skade aan die Colt Mitsubishi-bakkie. Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'