HESSEQUA NUUS - 'n Middeljarige vrou van Kwanokuthula sit letterlik in sak en as nadat 'n brand haar houthuis op Saterdagoggend, 8 April, vroeg in puin gelê het.
Janine Davids (43) het net met die klere aan haar lyf uit die brandende huis ontsnap.
Sy het aan Suid-Kaap Forum vertel dis net 'n bestiering dat sy nog leef. "Die brand het onverklaarbaar net voor 05:00, terwyl ek nog vas geslaap het, in my houthuis uitgebreek, maar ek was salig onbewus daarvan."
Sy vertel haar buurman, Sanele Matshuili, het wakker geskrik toe hy die geknetter van vlamme hoor.
"Hy het onmiddellik besef ek verkeer in groot gevaar en dat die veiligste manier om my wakker te maak was om 'n baksteen op my huis se sinkdak te gooi. Sy vinnige optrede het beslis 'n tragedie voorkom."
Janine sê Sanele was nie die enigste held in die brandende verhaal nie. "Nog 'n inwoner, Poena Jacobs, het ingespring en die gesmelte drade uit die kragboks, wat die res van die woonbuurt bedien, ontkoppel sonder om twee keer te dink dat sy kon doodskok. Dié lewendige kragdrade het beslis 'n groot gevaar vir die inwoners ingehou, maar sy het dit uitgepluk om te voorkom dat mense nie geskok word nie.
"My suster, Christelle, was ook op die toneel saam met die buurt se inwoners om te help om die vlamme met emmers water te blus. Maar hulle het tevergeefs teen die oormag vlamme baklei. Die hitte was net te erg.
"Maar ek is baie dank verskuldig aan my suster en die inwoners wat die hitte probeer trotseer het om my huis en besittings te red. Ongelukkig het ek alles verloor. Daar is niks oor nie."
Janine sê sy het geen benul hoe die brand ontstaan het nie. "Ek weet nie of iemand dalk 'n petrolbom gegooi het en of daar 'n kortsluiting ontstaan het nie."
Sy het intussen by vriende ingetrek tot sy groter duidelikheid oor haar toekoms het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’