Update
HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie is dringend op soek na inligting nadat 'n vragmotorbestuurder Sondagaand, 15 Mei, deur 'n paar jong mans op die kruising van Port Beaufortstraat in Slangrivier aangerand is.
Volgens die polisie was die bestuurder op pad na die vragmotor waar dit geparkeer was, toe 'n paar mans hom groet en verby hom stap.
Een van die mans het hom toe met 'n bottel oor die kop geslaan. Die voorval het tussen 18:15 en 19:55 plaasgevind.
Terwyl hy na die vragmotor gestrompel het, het hy gesien dat die seile oopgesny en van die bottels wyn weg is. 90 bottels wyn ter waarde van ongeveer R10 000 is gesteel.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike polisiewoordvoerder is klagtes van diefstal uit 'n voertuig, asook aanranding met die doel om ernstig te beseer aanhangig gemaak. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
Die saak word ondersoek.
Enigiemand met inligting oor die betrokke voorval word versoek om die dienssentrum (028 722 8200), of Hendricks (079 893 9930) te skakel.
Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'