SOETMELKSRIVIER NUUS - Inwoners van Soetmelksrivier is bekommerd oor die soveelste vragmotor-ongeluk op die N1-snelweg wat hier plaasvind.
'n Vragmotor het kort voor die naweek op Donderdag, 15 April omstreeks 20:45 die aand by die skerp draai digby die Soetmelksrivier-afdraai omgeval.
Phillip Beneke, 'n inwoner wat naby die snelweg woon was eerste op die toneel. Hy het ook die foto's op die ongelukstoneel geneem. "Ek woon sowat 50m van die ongelukstoneel af. Dit het reg voor my deur gebeur. Ek het harde slag gehoor en toe gesien hoe die vonke spat soos die vragmotor deur die versperrings gebars het en oor die wal skuif. Boere van die omgewing het minute ná my daar opgedaag."
Die voorval het sowat 500m van die toneel gebeur waar twee motors die vorige Sondagaand van agter teen mekaar gebots het.
Nooddienste is ontbied en die polisie, brandweer en ambulans was in 'n japtrap op die toneel. "Hulle het die drywer met 'n groot gesukkel uitgehaal en gestabiliseer," sê Beneke.
Die vragmotor het gelukkig nie die pad versper nie. Die plaaswag het die volgende oggend 'n kennisgewing op sosiale media geplaas en toeriste van die ongeluk voor Riversdal verwittig. Die pad is tydelik gesluit vir die herwinning van die vragmotor.
Die verwydering het omstreeks 10:00 begin terwyl 'n stop-en-ry in werking was. Hul vordering is egter deur die skade aan die trok en weens die skuinste wat dit vasgedruk het, belemmer.
Die pad is ná groot toewyding uiteindelik kort voor 14:00 oopgestel.
Beneke sê daardie draai waar die groot bloudakgeboue van kaasboerdery staan, is gevaarlik. "Dit was nou die hoeveelste ongelukkig die afgelope 18 maande daar. Iets sal gedoen moet word om nóg ongelukke en selfs lewensverlies te voorkom."
'Ons bring jou die nuutste Soetmelksrivier, Hessequa nuus'