RIVERSDAL NUUS - Voetgangers wat die N2 buite dié dorp kruis, is 'n groot bron van kommer - veral waar skoolkinders oor die pad stap na Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool wat aan die N2 grens.
Suid-Kaap Forum het gedurende September die vraag op sosiale media gestel of 'n voetgangeroorbrug, soortgelyk aan die by Heidelberg, die probleem sal oplos.
'n Oorweldigende reaksie is verkry, waarvan die meerderheid positief geantwoord het.
Sommige het genoem dat dit net 'n ongeluk is wat wag om te gebeur voor iemand daadwerklik iets sal doen, terwyl ander gesê het voorkoming is beter as genesing.
Een van die voorstelle wat gemaak is, indien 'n oorbrug wel gebou word, is om voetgangers wat die hoofweg dan op 'n roekelose of nalatige wyse op 'n ander plek as die oorbrug kruis, strafregtelik te vervolg.
Persone wat nie saamgestem het dat 'n voetoorgang sal help nie, het gesê voetgangers is te lui om net 'n paar tree verder te stap.
"Kyk byvoorbeeld in George op die N2 na Wilderness.
"Die draadheining word gebuig en gebreek sodat die mense daar kan oor," aldus Johannet Strydom.
Keith Eksteen het gesê dat 'n vriend van hom al vir jare by hom wil weet hoekom Riversdal nie 'n veilige voetgangeroorbrug het soos Heidelberg en die Kaapse middestad wat die spoorwegstasie met die Goue Akker-winkelsentrum verbind nie.
"My antwoord was: Rafiek, daar moet eers 'n noodlottige ongeluk gebeur waar iemand sy lewe gaan verloor, dan gaan die provinsiale en plaaslike owerheid wakker skrik..."
Kommentaar deur Sanral
(vertaal en verkort)
Sanral beskou die veiligheid van voetgangers op nasionale paaie in 'n baie ernstige lig. Ongelukkig verteenwoordig voetgangers in Suid-Afrika 40% van padsterftes.
Behalwe die bevordering van padveiligheidsopvoeding en -bewustheid onder alle padgebruikers, moet alles gedoen word om bekende voetganger konflikpunte te verminder.
Daar is verskeie maniere om veilige oorgang aan voetgangers te voorsien wat langs of oor groot roetes reis, soos op die N2 deur en naby Riversdal.
In die geval van voetgangers wat langs belangrike roetes reis om hul bestemmings te bereik, speel infrastruktuur soos sypaadjies of voetpaadjies 'n betekenisvolle rol om hulle van vinnig bewegende voertuie weg te hou.
Wanneer voetgangers hoofpaaie moet oorsteek, kan padinfrastruktuur soos voetgangerbrûe of onderpaadjies of selfs vlak voetoorgang (sebra-kruisings) oorweeg word.
Al hierdie word gemotiveer deur die grootte en omvang van die voetgangeraktiwiteit, sowel as die berekende risiko vir padgebruikers.
In sommige gevalle is voetgangeroorgange oor relatief langer afstande versprei en is daar nie 'n spesifieke kruispunt waaroor voetgangers kruis nie.
In sulke situasies kan die benadering wees om die verkeer te kalmeer deur die bedryfspoed te verminder en voetgangers te kanaliseer om die pad oor te steek waar en wanneer dit veilig is om dit te doen.
Die benadering werk baie goed wanneer die deel wat voetgangers kruis, relatief plat is en kruisings p verskillende veilige plekke plaasvind, met goeie sigafstand vir beide motoriste en voetgangers.
Hierdie toestande is op die gedeelte van die N2 waargeneem deur die 'stedelike' gedeelte van Riversdal.
In antwoord het SANRAL in 2016/17 die installering van twee permanente spoedkameras op die N2 ondersteun om te verseker dat die opgelegde spoedgrens van 60 km/h deur motoriste nagekom word.
Aanvanklike aanduidings is dat ons voetgangeraktiwiteite moet kanaliseer na 'n veiliger plek soos Heidelbergweg op die N2.
Dit sluit in die oprigting van heinings wat ons beplan om uit te brei na Heidelbergweg.
Op sekere plekke beplan ons om 'n 2,1m hoë staaldraad-staafheining te gebruik.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'