HESSEQUA NUUS - Voëlvlei se VLV-tak het onlangs 'n opvoedkundige- en kultuuruit-stappie na Albertinia en Riversdal onderneem.
Hulle het by Tuinplaas net buite Albertinia vir vroegoggendkoffie ontmoet en daarna deur die plaasmuseum gestap.
Hier word 'n ongelooflike versameling van bykans 10 000 modelmotortjies, veteraantrekkers soos 'n 1933 McCormick Deering, 'n werkende modeltrein en die wêreld se grootste handgebreide trui uitgestal.
Die feetjietuin en blikwinkel, waar jy ornamente vir jou eie feetjietuin kan koop, het talle oe's en a's ontlok. Daar is ook 'n oulike Tiny Town wat jou kinders se verbeelding sal prikkel.
Die tweede besoek was aan die Julius Gordon Africana Sentrum en Versfeld Huis in Langstraat, Riversdal. Jalize Rheeder en Andy Stoffels het tydens die toer deur die sentrum waardevolle inligting verskaf.
Die Gordon-familie was die eerste eienaars van die huis tot Theodore Versfeld dit in 1956 oorgeneem en al die Gordons se besittings en skatte aan die nuutgestigte sentrum geskenk het.
Die laaste stop was by die ou Riversdal Tronk, wat aan Louise Malherbe behoort en danksy haar nog bewaar bly. Dis baie interessant om onder meer 'n replika van die galg, wat op Swellendam gestaan het en na Riversdal gekarwei is vir die enkele persoon wat gehang is, te sien. Louise het met 'n tikkie humor die geskiedenis van die tronk en staaltjies van 'oudinwoners' met die dames gedeel.
Daarna het die ou tronk se personeel middagete bedien en die wortelkoek en kaaskoek was "to die for!"
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'