RIVERSDAL NUUS - Werkersdag op Vrydag 1 Mei is maar suutjies gevier.
Al was dit die eerste dag van vlak 4 van die Covid-19-inperkingsmaatreëls, was daar steeds min mense op straat in vergelyking met ander Vrydae aan die einde van die maand.
Die gewone rye klante het geduldig buite koswinkels gewag, terwyl net enkele ander winkels se deure oop was. Dalk was dit die vakansiedag, of miskien omdat mense wat nie nou kan werk nie se geld skraps is.
Saterdag was dit 'n ander storie, want toe het talle winkels wat sedert die inperking om middernag op 26/27 Maart gesluit was, hul deure oopgegooi. Streng gesondheidsmaatreëls het oral gegeld. By die ingange na die winkels het 'n personeellid gereed gestaan om elke klant se hande met reiniger te spuit en seker te maak net 'n beperkte aantal mense gaan die winkel binne. In die winkels het kruise of strepe op die vloer aangedui waar klante moet staan om die nodige afstand van mekaar te handhaaf.
Babawinkels het flink sake gedoen. Klerewinkels het net winterklere en nie ander uitrustings verkoop nie. By winkels wat huisware verkoop, kon 'n mens komberse en ander beddegoed koop, maar nie gordyne of breekware nie. Die goedere wat nie verkoop mag word nie, is duidelik met kennisgewings gemerk of met rooi en wit lint afgesper.
Winkels wat rekenaartoerusting verkoop of herstel is ook toegelaat om sake te doen.
Die strate was op Maandag 4 Mei amper weer soos in die ou dae voor die Covid-19-vrees oor die dorp kom hang het. SASSA het staatstoelaes aan bejaardes en gestremdes uitbetaal. Rye mense het op die sypaadjies by banke gewag - die meeste van hulle met maskers op en baie van hulle - maar nie almal nie - ten minste 'n meter uitmekaar.
By die banke het personeel klante in die rye se hande met reiniger gespuit. By een bank het die bestuurder selfs klante se temperatuur op die trap by die voordeur gemeet.
By koswinkels was groter samedromming met weinig sprake van 'n veilige afstand en taxi's het ywerig mense en pakkies karwei.
Vreemd genoeg: In vergelyking met al die ander dae tydens die vlak 5-inperking in April, was nêrens 'n wetstoepasser in sig nie.
Klante staan en wag by 'n kitsbank in Kerkstraat.
Warm komberse teen die winterkoue kon gekoop word. Foto’s: Tisha Steyn
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'