STILBAAI NUUS - Talle vakansiegangers en inwoners het Dinsdagoggend 20 Desember by die visvywers langs die hawe opgedaag om te help met die herstel daarvan.
Die klippe wat op mekaar gepak is om die vywers te vorm, spoel rond en daar is natuurlik ook onkundiges wat van hierdie klippe verwyder.
Daarom is dit noodsaaklik om ten minste elke 10 jaar onderhoud te doen om die viswywers te herstel.
Onder leiding van André Roux, een van 'n handjievol lewende kenners van visvywers, en Jean du Plessis van Cape Nature, is daar nie net gepak en gewoel nie, maar André het ook sy kennis met die helpers gedeel. Ander ouer inwoners het ook deurentyd staaltjies uit vervloeë dae vertel.
Daar sal in die toekoms gereeld sulke dae plaasvind en mense word aangemoedig om hierdie belangrike erfenisterreine ongeskonde vir die nageslag te bewaar.
Die klipkraalagtige visvywers in die tussengetysone wat tydens laaggety waargeneem kan word, is die nalatenskap van die oorspronklike Khoisan-bewoners, maar later het die koloniste ook meegedoen en dit selfs uitgebrei.
'n Toegewyde en kundige groep Stilbaai-inwoners hou steeds die tradisie van visvang deur middel van die visvywers tydens donkermaan-springgetye in stand.
Hierdie vywers is 'n kultuurhistoriese erfenis van groot waarde en geen versteuring van die strukture of verwydering van artefakte is toelaatbaar nie.
André Roux, een van 'n handjievol lewende kenners van visvywers, besig met onderhoud om die viswywers te herstel.
Vrywilligers hard aan die werk met onderhoudswerk aan die viswywers.
Jean du Plessis (met geel baadjie) van Cape Nature wys hoe om die klip in te pas onder die wakende oog van André Roux.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'