HESSEQUA NUUS - Die eerste skoolkwartaal gaan nie net oor atletiek en ander somersportsoorte by die hoërskole nie.
Dis eintlik 'n baie belangrike kwartaal vir ouers met kinders in grade 8, 10 en 12.
'n Leerder in gr. 8 is gewoonlik nuut by die hoërskool en sluit by ander leerders aan wat van ander skole in die dorp of van omliggende plaasskole kom. Hulle is gewoonlik baie in die klas en wys sommer binne die eerste paar weke dat hulle spesiale aandag sal moet kry. Hoekom is dit so?
Dié leerders was 'n paar maande gelede nog 'n senior leerder, 'n leerder met aansien, 'n 'diknek' onder 'n paar honderd ander laerskoolleerders. Sommige pas maklik aan en skakel gou by die nuwe stelsels in. Vir andere is dit nie so maklik nie. Skielik is hy net nog 'n leerder, sonder enige status en onderaan die leer by die nuwe skool. Hy bevind hom in 'n stryd om aansien te kry in 'n klas vol ander, wat ook meeding om status en aansien. Kinders raak luidrugtig, uitspattig en wyk heeltemal af van die gedrag wat hulle by die huis geleer het. Onderwysers sê: 'Die gr. 8's is darem baie raserig. Party is sommer net onbeskof!'
Die nuwe leerder het gedink hy kom na die hoërskool met 'n paar sterk kode 7's, wat hom sou laat uitstyg bo die klas as skrander leerder. Nou vind hy uit sy kodes is nie so sterk soos die ander kode 7's in die klas nie! Hy sukkel met werk wat die ander kinders maklik kafdraf. So 'n leerder sit ontnugter in die klas en om sy ongemak te verbloem, kan hy gedragsafwykings begin toon. Dit geld veral vir leerders wat met laer kodes geslaag het en wat glad nie die mas van gr. 8 kan opkom nie. Die leerkragte sal hierdie leerders gou identifiseer, want hulle wys hulself uit. Die wat sukkel sal gou bymekaar uitkom en so sit die skool gou met 'n groep leerders wat weerbarstig, onbeskof en onbeheerbaar is - nie net by die skool nie, maar moontlik later ook in die gemeenskap. Daar is verwarring, ontsteltenis en selfvertwyfeling in die leerder se gemoed. Hierdie leerder het ondersteuning nodig.
Ouers moet hulle vergewis van hoe die leerder vaar deur na die kwartaaltoetse te kyk. Die uitslag per vak sal duidelik wys of hy die eerste kwartaal se werk onder die knie het, al dan nie. Ouers moet betyds en daadwerklik intree en die leerder ondersteun om so gou moontlik op standaard te kom en op standaard te bly.
Die gr. 10-leerder het vakke gekies vir die volgende drie jaar. Ouers behoort die eerste kwartaal se toetse goed deur te gaan om te bepaal of die regte keuse gedoen is of nie. Vak-onderwysers kan die leerder en ouers help om besluite te hersien, of om die leerder tot met die halfjaarlikse eksamen 'n verdere kans te gee. Die halfjaarlikse eksamenuitslae sal die finale besluit vir almal maklik maak. Dis goed vir ouers om te weet dat daar 'n groot gaping is tussen die gehalte en hoeveelheid werk in gr. 9 en gr. 10. Ouers wat hardkoppig stry teen uitslae en hulle arme kinders verdoem tot 'n skoolhel vir die volgende drie jaar, behoort eintlik aangekla te word vir kindermishandeling!
Dis gewoonlik traumaties vir 'n senior leerder om uit 'n stroom te kom en sodoende toe te gee dat hy nie genoeg aanleg vir die vak het nie. Tieners het ouers se ondersteuning en onderwysers se aanmoediging in sulke gevalle broodnodig. Dis seer, want dis ego, dis eer…
Gr. 12's wat die eerste kwartaal ligtelik opneem, sal soek na hierdie weke, hoe nader hulle na die eindeksamen toe kom! Ouers sal weet dat die akademiese jaar vir gr. 12's eintlik by September al verby is. Skole en gr. 12-leerders behoort na dié eksamen te weet waar hulle staan. Dis eintlik net 'n kwessie van afstof hier, en vasdraai daar. Ouers loop die hele jaar saam met hulle kinders - taak vir taak; toets vir toets; eksamen vir eksamen. Elke taak, toets en eksamen word met 'n verwagting vir die hoogste moontlike punte aangepak. Dit is hoe dit moet wees vir die ouer van 'n gr. 12-leerder.
Dis daarom dat die eerste kwartaal se uitslae weer bekyk moet word - om te sien of die belofte van 'n goeie finale uitslag alreeds daar te bespeur is.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'