MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai het sy eie opleidingskampus in pastorale narratiewe terapie. Die kampus is in 2016 as ‘n sattelietkampus in Mosselbaai gestig. Dit was ‘n voortvloeisel van die Universiteit van Pretoria se teologiese departement.
Caritas Care Mosselbaai, 'n nie-winsgewende organisasie, fasiliteer kursusse op die kampus.
Sedert die vestiging van die kampus, is daar elke jaar ‘n nuwe inname van oggend- en aandstudente. Meer as 70 persone het al die afgelope vyf jaar kursusse hier voltooi.
‘n Tweejaarkursus word aangebied in Engels en Afrikaans vanuit die NG Moedergemeente Mosselbaai en is vir alle denominasies toeganklik.
Buiten die vaslegging van die pastorale narratiewe terapeutiese veld, word modules soos trauma, verslawing, molestering, depressie en verhoudings gedek.
In September word ‘n module oor tieners behandel.
Stefanie Minnaar van Mosselbaai, bied hierdie belangrike tema aan. Stefanie het twee tieners in die huis en het self die kursus in 2018 voltooi. Sedertdien het Stefanie haar verder bekwaam deur ‘n kursus van Hanlie Boshoff wat al 20 jaar met adolossente werk, te deurloop. Hierdie module leer die kursusgangers hoe die verandering van die tiener se brein, sy optrede en verhoudings beïnvloed.
Stefanie gee aan ouers van tieners en mense wat met tieners werk leiding oor hoe om hulle verhouding met die tieners te versterk sodat die tieners as veerkragtige jongmense die wêreld sal kan ingaan.
Stefanie sê self sy het in 2017 ingeskryf vir die pastorale narratiewe kursus vir persoonlike verryking, maar min het sy geweet dat die kursus so ‘n impak op haar eie lewe sou hê. Behalwe dat die kursus haar toegerus het met gereedskap om die kleinste tot die grootste uitdagings te kan hanteer, het haar kennis van menswees vir haar ‘n hele nuwe wêreld oopgemaak.
Vir meer inligting, stuur 'n Whatsapp na 071 473 0507.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'