HESSEQUA NUUS - Padatlete, en nie motoriste nie, gaan Saterdagoggend van 05:00 af die pad tussen Heidelberg en Witsand vir 'n wyle besig hou. Dis wanneer die eerste gros deelnemers aan die Vlakte-marathon op die 42,2 km-roete wegspring.
Hulle word gevolg deur die 21,1 km-groep wat om 06:00 wegspring en om 07:00 kom die 10 km aan die beurt. Die pretloop begin eers om 08:00.
Teen Maandag het 'n raps oor die 500 atlete reeds vir die Vlakte-marathon ingeskryf, maar die getalle sou beslis die week sterk aangegroei het, het Carien van Eck van Langeberg-atletiekklub, wat die organiseerders is van dié gewilde marathon, aan Suid-Kaap Forum gesê. "Ek weet nie of ons 2019 se getalle van 980 gaan haal nie, maar ons verwag nog heelwat aanlyninskrywings. Atlete kan natuurlik op Saterdagoggend ook registreer."
Die marathon vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar en om dit behoorlik te vier sal atlete met spesiale ontwerpte T-hemde kan draf.
Alle opbrengste is ten bate van Kansa en tydens die prysuitdeling sal 'n tjek aan 'n persoon namens Kansa oorhandig word wat kanker oorleef het.
Die Vlakte-marathon is ook die ideale gesinsuitstappie al neem jy nie deel nie. Daar sal 'n biertent en ook kosstalletjies beskikbaar wees by die eindpunt en natuurlik vermaak vir almal.
Vir enige navrae bel Nico Steyn by 083 226 3091 of Carien van Eck by 082 592 0150.
'n Handvol atlete van Riversdal maak Dinsdagoggend vroeg vir oulaas litte los ter voorbereiding van Saterdag se Vlakte-marathon, wat tussen Heidelberg en Witsand aangebied word. Van links: Reece Hughes (42,2 km), L'Zuné Hughes (21,1 km), Christilda Smith (21,1 km), Analie Heyns (42,2 km) en Danie Geldenhuys (42,2 km).
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'