RIVERSDAL NUUS - 'n Inwoner van Riversdal het op 21 April 'n bedrogsaak by die plaaslike polisie aanhangig gemaak na hy deur twee verdagtes ingeloop is wat kwansuis sy motor wou koop en toe weer die geld onttrek het na hulle die voertuig se sleutels ontvang het.
Die voertuig is dadelik op hulle naam geregistreer.
Twee lede van Riversdal-polisie, ao Hans Busch en sers Phillip Thiart het op Woensdag, 28 April 'n lokval vir die verdagtes gestel deur 'n informant te gebruik om 'n soortgelyke transaksie met die verdagtes te doen. Die verdagtes het dieselfde modus operandi gebruik soos in die vorige geval waar een van hulle die transaksie beklink en die ander in 'n voertuig sit en wag.
Die oomblik toe die informant die bevestiging op sy foon gekry het dat die R110 000 vir die voertuig inbetaal is, het die lede toegeslaan en die een verdagte in hegtenis geneem. Die ander verdagte het dadelik weggejaag toe hy sien sy maat word gearresteer.
Die polisie op Swellendam is in kennis gestel om op die uitkyk vir die verdagte te wees, omdat hy op die kameras opgemerk was dat hy in daardie rigting gejaag het. Hy is kort daarna daar in hegtenis geneem.
Die klaer in beide sake wat verkies om anoniem te bly, het die verdagtes, albei onwettige immigrante, positief op die toneel uitgeken.
Hulle het op 30 April in Stilbaai-landdroshof verskyn en bly in aanhouding in George-gevangenis tot hul volgende verskyning.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'