HESSEQUA NUUS - 'n Bewusmakingsveldtog vir die 16 dae van aktivisme teen gesinsgeweld en mishandeling van vrouens en kinders is op Vrydag 24 November deur die plaaslike munisipaliteit se departement gemeenskapsdienste van stapel gestuur.
Verteenwoordigers van die veldtog het deur die strate van Riversdal beweeg en 'n geskrewe verbintenis ter ondersteuning van geen geweld teen kwesbare groepe aan Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, oorhandig.
Die bewusmakingsveldtog vind internasionaal vanaf 25 November tot 10 Desember plaas.
Geweld teen vroue en kinders is 'n ernstige en kommerwekkende probleem in die land en kan verskeie vorms aanneem, onder andere fisiese, emosionele en finansiële mishandeling, asook seksuele aanranding en verkragting.
Hessequa-munisipaliteit ondersteun hierdie inisiatief en het in samewerking met Riversdal-polisie, departement maatskaplike ontwikkeling, Kindersorg Riversdal, ACVV Riversdal, Badisa Stilbaai, AwarenessAction Slangrivier, Hessequa-beskermingsdienste, Working on Fire, Olives senior burger-klub, Golden Oldies senior burger-klub en kleuterskole aan die optog deelgeneem.
"Die doel van die veldtog is om die gemeenskap bewus te maak van geweld teen kwesbare groepe soos senior burgers, persone met gestremdhede, vrouens en kinders," het Susan Geldenhuys, munisipale mediawoordvoerder gesê.
'n Geskrewe verbintenis ter ondersteuning hiervan is aan Riddles en 'n verteenwoordiger van die departement van justisie oorhandig.
Mans, vrouens en kinders het aan die optog deelgeneem.
Die optog beweeg verby Panorama Primêre skool na die middedorp.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'