RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike polisie doen 'n beroep op die gemeenskap om ag te slaan op hierdie veiligheidswenke.
"Sodoende kan daar verhoed word dat 'n misdryf gepleeg word en dat jy 'n slagoffer van misdaad word," het die polisiewoordvoerder, sers. Edwina Heskwa gesê.
Wat om te doen as jy 'n slagoffer is van bedrogspul / plapos (spam):
• Moet nooit 'n e-pos of selfoonboodskappe beantwoord wat jou bankbesonderhede en persoonlike besonderhede aanvra nie;
• Moet nooit jou bank se pin of aanlynpin neerskryf of vir iemand anders gee nie;
• Moet nie enige geld inbetaal as die e-pos of selfoonboodskap dit verlang nie.
By die woning:
• Maak seker dat alle deure en vensters gesluit is as jy nie by die woning is nie;
• Stel familie of bure in kennis wanneer jy nie tuis sal wees nie;
• Sorg dat alle toerusting - byvoorbeeld grawe en byle - wat gebruik kan word in 'n aanval veilig weggebêre is as jy dit nie gebruik nie;
• Moenie tydelike werkers in diens neem sonder enige verwysings nie;
• Verwyder digte bosse of bome by die woning wat as skuiling gebruik kan word;
• Rapporteer verdagte persone onmiddellik aan die plaaslike polisie.
Voertuie:
• Moenie waardevolle items soos byvoorbeeld skootrekenaars, kameras, selfone of kontant sigbaar in die voertuig los nie;
• Maak seker dat alle vensters en deure van u voertuig gesluit is;
• Verwyder losmaakbare radio's en radio-gesiggies;
• Moet nooi jou handsak sigbaar in die voertuig agterlaat nie.
Heskwa nooi die publiek om aan te sluit by die buurtwag in hul omgewing deur die volgende persone te skakel by 028 713 8500:
sers. Busch - sektor 1 (Môrestond, Riverville en Aloeridge)
sers. Thiart - sektor 2 (Kwanokuthula, Aalwynfleur en besigheidsarea).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'