TUINROETE | KAROO NUUS - Veiligheidsleiers van die Tuinroete gaan Vrydag 8 September koppe bymekaar sit oor gemeenskapsveiligheid in die streek.
Die sessie word gevolg deur ‘n werkswinkel Saterdag 9 September wat oop is vir alle lede van die publiek.
Die werksessie word by die NG Kerksaal in Herold aangebied en die bekende landelike veiligheidskenner, Roland de Vries is die hoofspreker, terwyl sy vrou, Henriette, sal praat oor trauma weerbaarheid.
Verteenwoordigers van staatsinstellings, die polisie, burgerlike organisasies en die sakegemeenskap sal dit bywoon.
Vrydag is die geleentheid slegs vir kernleierspanne van die omgewing, maar Saterdag is almal welkom om te gaan saam praat. Daar sal onder meer gekyk word na 'n oorhoofse strategie vir gemeenskapsveiligheid en bedreiging.
Kemp Myburgh, een van die organiseerders, sê die fokuspunt is plaasaanvalle en ander geweldsmisdade, natuurrampe, gewelddadige protesaksie en so meer.
"Goeie beplanning spaar lewens en lei tot aksie en ekonomiese, sosiale en maatskaplike bestendigheid. Dis 'n gemeenskapsgedrewe veiligheidsinisiatief deur ons mense vir ons mense."
Na afloop van die werksessie sal De Vries help met die skryf van die operasionele en implementeringsinstruksies.
Toegang is gratis en verversings sal te koop wees. Mense wat belangstel kan Kemp Myburgh kontak by 076 450 7424, Heidi Naude by 082 889 3459 of Christi van Rooyen by 076 459 3819.
Lees meer Donderdag in George Herald.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’