Gallery Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Langtermynprojek wat deur die Stilbaai Bewaringstrust en die Belangeforum gesamentlik aangepak is om indringerspesies uit te roei, het Saterdag 13 Julie op dié kusdorp afgeskop.
Volgens Deon Begemann, ondervoorsitter van die Bewaringstrust, word die inheemse bos grootliks bedreig deur menslike aktiwiteite en aggressiewe indringerplante wat die fynbos verdring, vererger die situasie heelwat.
Na 'n kort opleidingsessie het 'n groep entoesiastiese deelnemers die fynbosstrook oorkant die Stilbaai-hengelsaal met saag en snoeiskêr in die hand aangepak, om plante soos Port Jacksons en rooipitjie die stryd aan te sê. Geteikende bome is heeltemal uitgehaal waar moontlik of tot op die grond afgesaag. Die oorblywende stompe is dadelik met 'n spesiale onkruiddoder wat 'n organiese suur bevat, toegeverf om te voorkom dat dit weer uitloop. Vrywilligers van Coastal Cleanup onder leiding van Miranda van Aardt het rommel opgetel en teen Saterdagmiddag was al die swart sakke en takke reeds deur die Hessequa-munisipaliteit verwyder.
Die Bewaringstrust beoog om 'n professionele groep mense op die been te bring wat permanent met die projek sal voortgaan, benewens die maandelikse byeenkomste van vrywilligers. Belangstellendes kan Begemann kontak by 082 440 7910.
Kyk 'n video hieronder:
Van links: Liam Brennan, Miranda van Aardt, George Sabbagha, Dupie du Plessis, Quintus Schumann, Leon Ehlers, Deon Begemann en Nic Geldenhuys. Foto: Deona Aucamp
Lees 'n vorige artikel hier: Indringerplante in Stilbaai se dae getel
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'