Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS - 'n Landbouskou sonder diere en kinders is ondenkbaar en die dorp se 152ste skou wat vanjaar aangebied is, het dit net weer beklemtoon.
Die skou het van Woensdag 19 Februarie tot Saterdag 22 Februarie geduur.
Donderdag se Jeugskou was met 161 inskrywings van oor die hele Wes-Kaap die grootste nóg. Leerders in die ouderdomskategorieë junior-junior, junior en senior het hul vernuf met vleis- en suiwelbeeste, wolskape, boerbokke en sybokke en ruiterkuns vertoon. Die fokus is op die hanteerder se vermoë om die dier korrek te hanteer. Altesaam 22 van die leerders het vir die afdeling kulinêre kuns- en suiwelbereiding ingeskryf.
Fotogalery: Riversdal-skou 2020
Volgens John Cronjé is 250 hoenders in 19 groot- en 24 bantamrasse vir die hoenderskou ingeskryf. Piet Olivier van Stellenbosch se jong New Hampshire Red-hen is as die beste inskrywing aangewys. Volgens Olivier is die hoenders 'n baie goeie dubbeldoelras wat tot 300 eiers per jaar lê.
Hennie Geldenhuys was oorstelp van vreugde omdat die verbod op veeveilings en skoue weens bek-en-klouseer net betyds opgehef is sodat die Suid-Kaap Merino-streekkampioenskap Vrydag aangebied kon word. "Ons het sedert Maandag 7 Februarie 152 wolskape van uitstekende gehalte uit die omgewing gekry."
'n Skaaphondvertoning en -kompetisie het vir naelbytoomblikke gesorg toe 'n beangste skaap sommer vroeg al blêrende uit die kamp gespring en koers gekies het.
Tydens Saterdag se boerboelskou met 98 inskrywings is van die beste honde in die Wes-Kaap vertoon. Johan Blomerus van Kroonstad het beoordeel. "Die doel van die skou is om te bepaal of die honde goed genoeg vir teling is," het hy gesê. Ederies Mokadam van Renaissance Boerboele (Kaapstad) se teef SA Superior Pepper is as grootkampioen aangewys, terwyl Beverli Katz van Sandfontein Boerboele se reun Middelpos Tank as reserwe-kampioen aangewys is.
Die deurlopende perdekompetisies het weereens baie toeskouers gelok en boer- en saalperde het in verskeie afdelings soos siertuig, vertoonperd, 3-gang en 5-gang meegeding.
Die baaldrakompetisie Vrydagmiddag het die manne van die seuns geskei, met 60 kg wat deur die jonges oor 'n vasgestelde afstand gedra moes word, terwyl die volwassenes 120 kg moes dra. Terwyl sommige jonger manne vinnig tou opgegooi het, het Henk Louwrens bewys ouderdom is net 'n getal met sy eerste plek in die 120 kg-afdeling.
Kyk 'n video hieronder:
Sowat 1 000 leerders het Donderdagaand aan vanjaar se massa-atletiek deelgeneem en is jillend deur trotse ouers en ondersteuners toegejuig. Vrydagoggend het die skoukomitee met die hulp van borge ontbyt aan die inwoners van die twee Droom-tehuise voorgesit. Bediening is deur 'n groepie leerders van Hoërskool Langenhoven gedoen. Saterdagoggend se baba- en kleuterkompetisie is ook goed ondersteun.
Die skou is oudergewoonte ingelui met 'n Groetmekaar Woensdagaand. Tydens die geselligheid is 'n geraamde vergroting van 'n foto van Andries van Wyk wat die grond waar die skouterrein vandag is, in 1905 aan die gemeenskap geskenk het, aan sy nasate oorhandig.
Die foto is deur die huidige skoupresident, Pieter van Wyk en sy pa, Joubert, voormalige president, aan Andries se seun dr. Vicky van Wyk en sy kleinseun, André oorhandig.
Van links: Eerste prinses Mari-Louise Fourie, skoukoningin Gizelle Pretorius, tweede prinses Estéa Venter, skoupresident Pieter van Wyk en sy vrou, Sandra. Foto: Tisha Steyn
Vorige artikel: Riversdal-skou propvol pret
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'