HESSEQUA NUUS - Vakansiegangers is besig om die Hessequa-streek se strande en oorde vol te pak.
Sedert Saterdag, 24 Oktober was dit duidelik dat die skoolvakansie aangebreek het.
Honderde mense was op die dag besig om die welkome vakansie na 'n uitmergelende jaar met oop hande te verwelkom, soos daar uitgepak is by strandhuise, gastehuise en ander verblyfplekke.
Die Jongensfontein-karavaanpark het 'n toeloop van kampeerders gesien. Tente is opgeslaan en braaivleisvure is aangesteek. Hengelgerei is bykans met die aflaaislag see toe gedra om vir die eerste keer die jaar lyne nat te maak.
By Die Watergat-swemarea in Jongensfontein het toeriste en selfs plaaslike inwoners 'n sonskyndag geniet deur op die rotse te sit en die see te bewonder.
Jonk en oud het die water aangedurf asof 'n jaar se sorge in die soutwater afgespoel moes word.
Bankies langs die strand is gevul met mense wat net die rustigheid wou ervaar, voor hul vakansie volstoom in aanvang neem.
Selfs geloofsrituele en ontspanningstegnieke langs die branders was aan die orde van die dag.
By Stilbaai-hawe het die visbedryf hul spasies om inkomende vissersbote te verwelkom, voorberei. Vis is skoongemaak en geslag soos dit aan land gebring is. Op die hawemuur het katrolle gesing soos vissermanne gepoog het om 'n vis aan die lyn te kry.
Met die weer wat 'n ommeswaai gemaak het teen Sondagoggend, het die vakansiegangers hulle nie laat afsit deur 'n bietjie klammigheid nie. Die vakansiegees is nie gedemp nie en restaurante is gevul in afwagting om weer strand toe te keer.
Melissa Grobbelaar het haar sitplek langs die see ingeneem en die uitsig geniet.
In Jongensfontein was die karavaanpark reeds vroeg Saterdagoggend besig om voller te raak. Foto's: Christo Vermaak
Die Watergat in Jongensfontein is so gewild onder vakansiegangers soos altyd.
Rituele langs die see was aan die orde van die dag.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'