Gallery
STILBAAI NUUS - Of jy net wou eet, óf net wou drink, óf albei - jy sou op 27 en 28 Maart iets lekkers by die vierde 'Craft Beer, Gin and Wine Expo' in die plaaslike gemeenskapsaal gevind het.
Die 29 stalletjies het bestaan uit drie boetiekbiere, vyf jenewers en 21 wynplase wat ou bekendes, sowel as nuwe gesigte ingesluit het.
Daarmee saam kon besoekers aan lekkernye soos kaas en olywe smul, terwyl die soettand ook nie afgeskeep is nie.
Diegene wat sommer aandete daar wou geniet, kon kies uit 'n verskeidenheid disse uit die boonste rakke.
Die organiseerders, Adolf Botes en Johannie Vermeulen van Stilbaai Kelders Wynboetiek, is baie tevrede met hierdie jaar se ekspo.
Besoekers van oor die land het kom proe en sommige het spesiaal vir die geleentheid van so ver as Witsand, Mosselbaai en Oudtshoorn gekom.
Botes en Vermeulen is reeds hard besig om vir volgende jaar se ekspo te beplan en dit beloof om 'n nog groter lekkerte op te lewer.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'