RIVERSDAL NUUS - Die kwessie rondom hawelose persone ressorteer tans onder die departement maatskaplike ontwikkeling in Riversdal wat daarvoor verantwoordelik is om die nodige assessering te doen, waarna die proses begin om die persone met hul families te herenig.
"Die uitdaging is dat 'n hawelose nie teen sy of haar wil met familie herenig kan word nie," het Didi Budricks, hoof van openbare betrekkinge en administrasie by Hessequa-munisipaliteit gesê nadat Suid-Kaap Forum 'n navraag hieroor gerig het.
Die departement maatskaplike ontwikkeling is tans besig om die saak te ondersoek.
'n Bekommerde inwoner het die koerant om hulp genader nadat hy 'n plaaslike raadslid oor 'n hawelose man se doen en late ingelig het, maar tot op hede geen terugvoering gekry het nie.
Die sypaadjieslaper het homself op die hoek van Heidelbergweg en Kerkstraat, vlak by die Riversdal Apteek tuisgemaak en volgens die klaer sit hy soms reeds vroegmiddag daar met 'n versterkinkie.
"Dis nie lank nie, dan kruip hy onder 'n kombers in vir die nag. Braaksel, spoeg en urine is nie 'n ongewone gesig by sy slaapplek op die sypaadjie nie."
Voorts sê die bekommerde inwoner sy doen en late in die openbaar is glad nie 'n mooi advertensie vir Riversdal se sakekern nie.
Nadat 'n kort beriggie hieroor op die Forum se Facebook-blad verskyn het, was daar persone wat hulle sterk daarteen uitgespreek het omdat hulle gevoel het die hawelose se privaatheid en regte word geskend en dat die koerant geen reg gehad het om 'n foto van hom te neem nie.
Sommige was simpatiek en het genoem dat hulle vir hom soms 'n geldjie of iets gee om te eet. Ander het genoem dat om veral geld vir 'n hawelose te gee, hom of haar net aanspoor om drank daarmee te koop en dat dit hulle nie help nie.
Vorige artikel: Hawelose skop nes by Apteek
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'