ALBERTINIA NUUS - Hoërskool Albertinia se dramagroep is einde Desember 2023 deur twee bekendes in die vermaaklikheidsbedryf, Monique Rockman en Keenan Herman, besoek om die leerders in die fynere kunsies van toneelspel touwys te maak.
Monique Rockman is 'n boorling van Albertinia en ook oudleerder van Hoërskool Albertinia.
Monique en Keenan het die verskillende tegnieke aan die groep verduidelik wat sal help om hul spel nog meer op te skerp. Hulle is ook ingelig wat vóór 'n optrede gebeur en hoe hoog die spanning dan loop.
Die opleidingsessie het plaasgevind by die Voëlroepersfontein (Albertinia se beroemde fluisterboom) waar die dramagroep altyd meeste van hulle funksies hou. Die leerders het ook die geleentheid gekry om bietjie toneel te speel voor die bekendes en het beïndruk met hul spel.
Monique sê sy is diep dankbaar dat die skool 'n hoë premie op drama plaas en sy is werklik trots op die skool se dramagroep.
Daar is lekker gesels oor die vermaaklikheidsbedryf en gesellig saamgekuier met dié twee TV-sterre.
Vanjaar hou groot belofte in vir nóg 'n dramatiese jaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’