STILBAAI NUUS - Drawwers en stappers kry swaar in grendeltyd, maar aan inisiatief ontbreek dit nie.
Sosiale media en nuusberigte is vol van hardlopers wat lang afstande in klein ruimtes aanpak en Stilbaaiers laat nie op hulle wag om so ’n uitdaging die stryd aan te sê nie.
Nico en Cecile Steenekamp van Stilbaai het Saterdag 18 April aan die landswye ‘No Loskop? Charity challenge, home fun run’ deelgeneem.
Hy vertel die organiseerders wou ’n geleentheid wat bietjie soos ’n regte padwedloop voel, reël. Nuno Tomaz van die Born to run-klub in Pretoria het saam met Graham Gersch van die Phobians-klub aan die werk gespring en hardlopers van oral uitgenooi. Die inskrywingsfooi was ’n donasie van R40 aan die Covid Solidariteitsfonds. Almal het in hul onderskeie klubkleure gehardloop om so na as moontlik aan ’n wedloopgevoel te kom. Nie-hardlopende familielede moes ondersteun met watertafels en aanmoediging.
Steenekamp sê: “Gelukkig is die afstand na 50 km verkort. Vir ons gewone mense wat ook bietjie wou draf was daar darem ’n keuse tussen 15 of 5 km ook.”
Nog ’n deelnemer was ’n gereelde vakansieganger in Stilbaai, Winia Janse van Rensburg. Sy het dadelik al haar hardloopmaats en familie en vriende wat sy moontlik kon oortuig om deel te neem, begin bearbei. Chris Fischer en sy familie van Perth en Jacob Majandana en Tokologo Makofane van Rustenburg was ook deel van die 392 drawwers wat vir die geleentheid ingeskryf het.
Die oggend het almal in hul eie tuine hul gekose afstand gehardloop of gestap en foto’s en bewyse daarvan op WhatsApp gedeel. Sowat R19 900 is ingesamel vir die Solidariteitsfonds.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'