RIVERSDAL NUUS - Lede van die Green Fingers-tuinbouklub het Woensdag 9 Mei 'n uitstappie na Hoërskool Langenhoven en die Hoër Landbouskool Oakdale meegemaak, waar hulle by albei hartlik ontvang is.
Die skakel tussen 'n tuinbouklub en skool is meer as wat meeste mense verwag.
Skole het dikwels mooi tuine, soms op onverwagte plekke. Baie Green Fingers-lede is ouers van kinders en 'n hele paar is voormalige onderwysers, terwyl ander by beheerrade of projekte betrokke was.
Dié dag het begin met 'n besoek aan die Fynbos-meenthuiskompleks wat kan spog met pragtige, netjies versorgde tuine. Die groep is rondgelei deur Kobus Victor, een van verskeie lede wat daar woon. Die groep het selfs van die geskiedenis en agtergrond van die kompleks geleer.
Daarna het 'n besoek aan Hoërskool Langenhoven gevolg waar Ilse Lambrechts meer oor die koshuis vertel het. Volgens lede het die huislike en warm atmosfeer van die koshuis hulle beïndruk, so ook die pragtige tuin, wat deur enkele privaat persone geborg is.
Talentvolle gimnaste onder leiding van Georgina Heenop het die groep met 'n ritmiese opvoering vermaak.
By Hoër Landbouskool Oakdale is hul hartlik deur Marlene Carstens ontvang, met 'n aanbieding en verversings.
Ondanks 'n vol program staan die hoof, André Latsky, heelwat tyd af om lede meer van die skool te vertel.
By die indrukwekkende sportsentrum ontvang Lukas Holtzhausen en Adriaan Jansen, wat na die leerders se fisieke ontwikkeling omsien die groep. Hulle ontvang ook 'n paar brokkies advies wat pasgemaak is vir persone van hul ouderdom en portuur en word genooi om gereeld te kom swem of oefen. Hul sluit hul besoek by die graad 8 en 10 se groentetuin projek af.
Bennie Aucamp het gewys hoe elke leerder sy eie tuin moet versorg en winsgewend bedryf.
Lede van die Green Fingers-tuinbouklub staan langs 'n reusagtige broodboom wat in Karin McDonald se tuin voorkom.
Karin McDonald se gevestigde groottuin, wat aangepas is om minimum versorging te vereis en Langezicht meenthuiskompleks is ook besoek.
Harry van Dam het gesê: "'n Heerlike dag wat gekenmerk is deur die hartlike manier waarop ons oral ontvang is. Ons eie dorp het baie om te bied en ons is bevoorreg dat ons deur die uitstappies dinge kan sien waarvoor ons andersins nie maklik die geleentheid sou kry nie."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'