'n Voorlegging is op 8 Mei aan die Hessequa raad gemaak waarop die Raad hulle ondersteuning en samewerking belowe het, met die oog op projekte om ons dorp Riversdal die mooiste en bes versorgde dorp in die Suid Kaap te maak.
Lede van die klub in samewerking met Reggie Wesso, André Hansen, Shagan Carelse en Jeanne Fourie van die Hessequa raad het op 15 Mei 'n terreininspeksie in Jurisch Park en by die begraafplaas langs die N2 gedoen ter voorbereiding van die eerste projek. Op 4 Junie het Retief en Anna Vosloo, Annatjie en Annemarie Joubert, Marietjie Streicher, Sal Carter, Piet Stroebel, Kobus Victor (klublede); raadslid Andrew Stroebel en verskeie amptenare van die raad 39 bome op die ruimte tussen die begraafplaas en die N2 aangeplant.
Annemarie Joubert en Ashley Jansen en sy span van EPWP (Expanded Public Working Programme) het as tweede projek by die boog van Jurisch Park begin om die heining tussen die park en die N2 te snoei sodat die park meer sigbaar kan wees. Terselfdertyd is die hele park skoongemaak, die bome gesnoei en indringerplante en dooie bome verwyder. 'n Voorlegging om die Droomprojek te verduidelik en om oortollige plantmateriaal uit te deel is aan die inwoners van Wyk 6 gedoen. Die Vetterivierrylaan en omgewing is ook deur die EPWP span skoongemaak.
Op 5 Julie het van die lede van die klub, rdl. Emor Nel (uitvoerende burgemeester) en Ashley Jansen en sy span al die plantmateriaal tussen die begraafplaas en die N2 na die park verskuif, wat die bedding by die rolbalbaan insluit. Die bestaande plante in dié bedding is ook herrangskik. Plante, bome en die rankrose op die omheining is ook gesnoei.
Die huidige projek waaraan Wilna Grüb tans met die hulp van Annemarie Joubert, Moonyeen Stander en Ashley Jansen en sy span werk, is die tuin om die burgersentrum. Beplannning en die skoonmaak en verskuiwing van bestaande plante is grotendeels gedoen. Nuwe struike is by die biblioteek geplant.
Wie en wat is die Green
Fingers Tuinbouklub?
Die klub is gedurende 2001 op Riversdal gestig. Deur die uitruil van tuinbouwenke en -plante en besoeke aan blomplase en ander besienswaardighede word die lede se gemeenskaplike liefde vir tuinmaak, plante en die omgewing uitgebou.
Die ingeskrewe lede kom maandeliks bymekaar vir uitstappies of lesings deur kenners om hul kennis van tuinbou uit te brei. Toegerus met die inligting is verskeie tuine van lede en selfs onbenutte oop ruimtes in die omgewing van hul tuine versier.
Die klub streef doelgerig daarna om deur die projekte wat reeds aangepak is, soveel as moontlik inwoners van die dorp te motiveer om ook 'n positiewe bydrae te maak tot die verfraaiing van die dorp.
Die bestaansriglyne van die klub lui soos volg: 'n Bydrae te maak ten einde 'n eko-vriendelike, inheemse en waterwyse kultuur te vestig, groen te dink en te leef."

So lyk die bedding nou!