HESSEQUA NUUS - Die koerant was verlede week nog beswaarlik op straat, of Suid-Kaap Forum was met skenkings vir ons nuwe projek oorval - 'n bewys dat ons streek se mense nog vir hul medemens omgee.
Met ons GET (Group Editors Together) Oliver Twist-projek konsentreer ons vanjaar op traumakamers in die streek, omdat baie van hierdie hoofsaaklik mishandelde vroue en kinders dikwels nie eens 'n trui in die winter het om aan te trek nie.
Hoewel ons reeds 'n goeie aantal gebreide truitjies, rokkies en broekies, mussies en sagte speelgoed, asook wol vir persone wat bereid is om vir die projek te brei ontvang het, is dit nie naastenby genoeg om al die traumakamers te voorsien nie.
Van die noodsaaklikste items wat vir kinders benodig word, is kleertjies (ouderdomme wissel van baba tot tieners), toiletware soos waslappe, tandeborsels en -pasta, babadoeke, babaklere, babakombersies en sagte speelgoed. Items vir mishandelde vroue sluit onder meer ook toiletware, sanitêre doekies en klere (in goeie toestand) in. Gordyne, handdoeke en noodhulptoerusting soos verbande en pleisters is ook op die lys.
Breiers
Hoewel 'n paar persone vanuit ons streek hulle bereidwillig verklaar om te brei of hekel, kan ons doen met nog gewillige hande. Het u dalk ekstra wol, brei- of hekelpenne wat nie gebruik word nie? Ons kan dit baie handig aanwend.
Baie dankie aan elkeen wat reeds iets geskenk het. Wees verseker dat dit 'n verskil in iemand se lewe gaan maak.
- Persone wat belangstel om 'n helpende hand uit te reik, of hand in die sak (beursie) te steek, kan die redakteur, Wilma Adamson by 028 713 2468 kontak of haar by Suid-Kaap Forum se kantore in Heidelbergweg 29, Riversdal besoek.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'