STILBAAI NUUS - Die jaarlikse Trans Agulhas-uitdaagwedren het in 'n "ligte bekgeveg" ontaard tussen 'n gereelde vakansiebesoeker, die organiseerders en die Hessequa-munisipaliteit.
Korrespondensie tussen al die betrokke partye duur al sedert Januarie en 'n oplos-bare antwoord wat alle partye tevrede sal stel hang nog in die lug.
Henk Louw, 'n besoeker uit Noordwes wat jaarliks hier kom uitspan, het briewe aan Die Burger, die organiseerders van die uithouwedren en die Hessequa-munisipaliteit geskryf om sy misnoeë uit te spreek omdat die hoofstrand vir ure gesluit word sodat die rubberbote kan inkom.
Hy sê dis onbedagsaam teenoor die res van die vakansiegangers wat "onaardige bedrae geld spandeer aan brandstof en verblyf.
"Dit is onverstaanbaar dat die hoofstrand se see vir letterlik duisende vakansiegangers belet word net sodat 'n handjie vol mense hul sport kan beoefen. Veral klein kindertjies verstaan nie waarom hulle nie in die water mag gaan nie."
Louw sê hy besef die waarde van 'n resies soos die Trans Agulhas in terme van finansiële inspuitings en vermaak en hulle geniet die wonderlike foto's elke jaar, "maar dit maak hoegenaamd nie sin om eenvoudig die hele vakansiepopulasie te verplig om die resies te moet waarneem nie."
Hy reken dat die ergste is dat die oplossing uitsonderlik eenvoudig is.
"Stilbaai se strand is letterlik kilometers lank. Skuif slegs die eindpunt van die skof 'n paar honderd meter strandaf of strandop - weg van die parkeerarea van die hoofstrand. Vir ekstra veiligheid kan 'n paar ekstra boeie uitgeplaas word om vir die swemmers, branderplankryers, roeiers en diegene duidelik te merk waar hulle op daardie dag mag en nie mag wees nie."
Hy pleit dat die organiseerders die vakansiegangers in ag moet neem.
Die organiseerders antwoord dat die hoofstrand om logistieke redes een dag in 'n jaar vir 'n paar uur gesluit word en sê hulle benodig, onder andere, krag en maak ook gebruik van die Lappiesbaai se toiletgeriewe en die restaurant.
Hessequa-munisipaliteit
In hul antwoord skryf die munisipaliteit "uit 'n logistieke oogpunt sal dit uiters moeilik wees om die operasionele area van die Trans Agulhas te skuif, veral met betrekking tot ablusiegeriewe en parkering.
Die munisipaliteit wil natuurlik beide die swemmers, sowel as die Trans Agulhas akkommodeer en as oplossing sal daar met toekomstige kompetisies verseker word dat daar 'n afgebakende skeiding tussen die twee verbruikersones is.
"Lappiesbaai-blouvlagstrand is steeds onderhewig aan blouvlagvereistes, veral ten opsigte van die skep van 'n veilige swemarea en soos in die verlede sal slegs die area aan die westekant van die Lappiesbaai restaurant aan die Trans Agulhas geallokeer word aangesien die groter strandgebied groot genoeg is om beide partye te akkommodeer."
Stilbaai-toerisme
Dries van Heerden, voorsitter van Stilbaai-toerisme sê die Trans Agulhas is 'n wêreldklasgeleentheid wat sedert 1988 jaarliks plaasvind. "Dit is 'n positiewe, lonende manier om plaaslike toerismebesteding te verhoog, wat van onskatbare waarde is vir ons sakelui."
As gasheerbestemming kry Stilbaai ook enorme bemarkingsvoordele wat nie net 'n bate vir die dorp is nie, maar ook vir die streek. Ander punte was al oorweeg in die verlede, maar Lappiesbaai-swemstrand is die mees praktiese punt om te gebruik.
"Stilbaai bied soveel aktiwiteite en ander swemstrande aan dat die verskuiwing vir hierdie geleentheid, volgens ons, onnodig sal wees.
Inwoner se kommentaar
'n Inwoner, Fred Mostert, sê aan Suid-Kaap Forum se Johan Victor die Trans Agulhas is al 'n instelling in die dorp en dit bring 'n broodnodige inkomste vir baie besighede in Stilbaai.
"Dit is net eenkeer 'n jaar en daar is heelwat ander swemplekke soos byvoorbeeld die riviermond, Preekstoel en selfs Jongensfontein.
"Ek is seker dat heelwat meer mense dit geniet as die wat kla. Gaan kyk maar net hoeveel toeskouers Lappiesbaai vol pak as die bote inkom en selfs met die Koning van die Branders-wedren in die namiddag.
"Meer as een keer waai die wind ook so dat die middagaktiwiteite afgestel moet word en dit dan beter is om by die rivier te wees as by Lappiesbaai."
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'