MELKHOUTFONTEIN NUUS - 'n Gebore Heidelberger, oudskoolhoof van Melkhoutfontein Primêr, medestigter van die dramagroep Heidal, asook 'n kranige rugbyspeler is Vrydag 28 Julie in die ouderdom van 73 oorlede.
John Andrew Appollis was 'n ondersolder kaalvoetseun, tweede oudste van ses kinders wat sy eerste paar skoene na matriek gekry het.
Hy het sy studies as onderwyser by die destydse OKSK op Oudtshoorn voltooi en op verskeie plekke sy loopbaan uitgeleef, ondermeer Worcester en die Koue Bokkeveld.
Na ses jaar op Merweville as hoof by George Fredericks Primêr, het hy die pos as hoof by Melkhoutfontein vanaf 1983 tot 1993 aanvaar om nader aan die huis te wees waar hy sy werk met passie gedoen het.
Hy was nie net 'n onderwyser nie, maar ook 'n raadslid, koorleier en toergids. Hy het die kinders van Melkhoutfontein aan die feit bekendgestel dat daar 'n breë wêreld buitekant dié dorpie is deur hulle op toere te neem vanaf Kaapstad na Port Elizabeth.
Die plaaslike gemeenskap het sowaar 'n diamant verloor, iemand wat vir sy medemens omgegee het, 'n familie mens, gelowige, raadgewer en 'n vegter tot die einde. Sy plek sal leeg wees, sy laggie sal gemis word.
"Ons salueer u, u was 'n man, pa, oupa, oupagrootjie, kollega en vriend duisend," aldus die familie.
Appollis laat sy eggenote, Eleanor, kinders Charmaine, Natasha, Elize, Renee, Vrede, Gaynor en John jr. asook 12 kleinkinders en 'n agterkleinkind agter. Sy begrafnis vind Saterdag 5 Augustus om 10:00 by die huis en 11:00 by die St. Augustine Kerk op Melkhoutfontein plaas.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'