Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die tweede Hessequa Harmonie-kunstefees wat van 25 tot 29 September plaasgevind het, het op hoë noot weggespring.
Die imposante argitektuur van die dorp se statige stadsaal was 'n waardige agtergrond vir die talente van die vier musici wat tydens die openingsgeleentheid opgetree het.
Die gehoor se staande toejuiging vir al die kunstenaars was paslike waardering vir die uitstekende vertonings.
Die klavierduo Elna van der Merwe en Zorada Temmingh het musiek van Chopin en Liszt in vars verwerkings aangebied. Hulle het op meesterlike wyse die bekendste gedeeltes uit elke komponis se werk gehaal en aanmekaar geweef tot 'n baie luisterbare geheel. Alles is met die aanslag van ware virtuose uitgevoer.
Vir die tweede deel van die program het bariton Niël Rademan en sopraan Janel Speelman by die pianiste aangesluit met 'n keurspel uit Sound of music.
Die gehoor het die bekende melodieë duidelik geniet en menige persoon het saggies saamgesing.
Kyk 'n video hieronder:
Die kunstenaars het almal melding van die voelbare energie uit die gehoor gemaak. Albei kante, vertolkers én ontvangers, het daarby gebaat en 'n uitvoering van hoogstaande gehalte was die eindresultaat.
Ander kunstenaars wat in die loop van die fees opgetree het was Suzanne en Peter Martins, Keanan McClune en Chantelle le Roux, Nic de Jager, 'n marimba-orkes onder leiding van Betsie Ryke en Reagan Diedericks, Anmari van der Westhuizen, Megan-Geoffrey Prins, Johannes van Staden-Slabbert en Raimondo van Staden-Slabbert.
Van links is Janel Speelman, Niël Rademan, Elna van der Merwe en Zorada Temmingh. Foto: Deona Aucamp
Lees 'n vorige artikel hier: Hessequa Harmonie-fees 'n hoogtepunt vir die streek
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'